PSALMS 44

Here, moenie ons verstoot

nie

1 Vir die koorleier: Van die Koragiete.

’n Gedig.

2 Met ons eie ore het ons gehoor,

o God,

ons voorouers het ons vertel

van alles wat U voorheen

gedoen het

in die dae lank gelede.

3 U self

het die heidense nasies

uitgedryf deur u mag

en die land

aan ons voorouers gegee.

U het hulle vyande vernietig,

en ons voorouers vrygemaak.

4 Hulle het nie die land

met hulle swaarde verower,

of die oorwinning

deur eie krag behaal nie.

Dit was deur u krag,

deur u teenwoordigheid

en u goedheid,

omdat U hulle liefhet.

5 U is my Koning en my God.

U bepaal oorwinnings

vir Jakob.

6 Ons kan deur u krag

ons vyande verslaan

en ons aanvallers

in u Naam vertrap.

7 Ek steun nie op my boog

of op my swaard

om my te red nie.

8 Want U gee die oorwinning

oor ons vyande;

U bring vernedering

oor dié wat ons haat.

9 O God, ons prys U die hele dag

en loof u Naam voortdurend.

Sela

10 Maar nou het U

ons weggestoot in skande.

U trek nie saam met ons leërs

na die geveg toe nie.

11 U laat ons vlug

voor ons vyande;

dié wat ons haat,

plunder na hartelus.

12 U lewer ons uit

soos slagskape;

U het ons

onder die nasies verstrooi.

13 U volk het U verkoop vir niks

en self het U nie

daarby gebaat nie.

14 U het ons ’n veragting gemaak

by die bure,

’n bespotting en beskimping

vir almal om ons.

15 U het ons ’n spotnaam

onder die nasies gemaak,

almal skud maar net die kop

daaroor.

16 My skande is dag na dag

voor my;

oor my gesig

is skaamte geskryf.

17 Al wat ek hoor,

is die lasteraar

en die kwaadspreker.

Al wat ek sien,

is die vyand en die wreker.

18 Dit het gebeur

hoewel ons U

nie vergeet het nie,

en nie aan u verbond

ontrou was nie.

19 Ons het U nie verlaat nie,

en nie van u paaie

afgedwaal nie.

20 Maar in die woestyn

het U ons verpletter;

donkerte en dood

het U oor ons gebring.

21 As ons opgehou het

om ons God te dien

of by vreemde gode

hulp gaan vra het,

22 sou God dit nie weet nie?

Hy ken immers

die geheime van die hart.

23 Om u ontwil

word ons elke dag doodgemaak,

word ons behandel

soos skape wat geslag moet word.

24 Word wakker!

Waarom slaap U, Here?

Staan op!

Moenie ons

vir altyd verstoot nie!

25 Hoekom kyk U anderpad?

Hoekom kyk U verby

ons ellende en verdrukking?

26 Ons lê verneder in die stof,

met die gesig in die grond.

27 Staan op! Kom en help ons!

Red ons

ter wille van u troue liefde.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eighteen + eleven =