PSALMS 42

BOEK TWEE (Psalm 42-72)

Verlange na God

1 Vir die koorleier: ’n Gedig van

die Koragiete.

2 Soos ’n wildsbok smag

na water,

so smag ek na U, o God.

3 Ek verlang na God,

die lewende God.

Wanneer kan ek ingaan

en weer voor Hom verskyn?

4 My trane is my kos,

dag en nag,

terwyl teenstanders

my aanhoudend tart en sê:

“Waar is dié God van jou?”

5 As ek nadink

hoe dit voorheen was,

is ek ontsteld.

Toe het ek geloop

saam met die aanbidders

en ’n optog gelei

na die tempel van God

terwyl ek sing en jubel

saam met die skare

wat feesvier.

6 Hoekom is ek nou

so mismoedig?

Hoekom so hewig ontsteld?

Nee, ek plaas my hoop

op God!

Ek sal Hom weer prys.

Hy is my redder

7 en my God!

Tog is ek nou terneergedruk.

Ek onthou hoe,

vanaf die Jordaangebied,

vanaf die berge van Hermon

en die hoogte van Miskar,

8 die rumoer van u watervalle

druis en dreun.

So het al u strome en golwe

ook oor my gegaan.

9 Tog sal die Here bedags

weer sy trou betoon.

Selfs in die donker nag

sing ek sy lied,

’n gebed tot die God

van my lewe.

10 Ek sal roep tot God en sê:

“My Rots,

waarom het U my vergeet?

Waarom moet ek

met rouklere loop

omdat die vyand my verdruk?”

11 Dis soos ’n diep wond

in my binneste

wanneer vyande met my spot,

wanneer hulle dag na dag vra:

“Waar is jou God?”

12 Hoekom is ek nou

so mismoedig?

Hoekom so hewig ontsteld?

Nee, ek plaas my hoop op God!

Ek sal Hom weer prys.

Hy is my redder en my God!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 × one =