PSALMS 39

Die Here is my enigste

hoop

1 Vir die koorleier: Op die wysie

van “Jedutun”. ’n Dawidspsalm.

2 Ek het gesê:

“Ek sal bedag wees

op wat ek doen

en nie sondig met wat ek sê nie.

Ek sal versigtig wees

om nie te praat

in die teenwoordigheid

van die goddelose nie.”

3 Maar toe ek daar in stilte

bly staan

en nie oor goeie dinge

kon praat nie,

het my ontsteltenis

groter geword.

4 Dit het in my begin kook.

Terwyl ek nagedink het,

het ek kwaad geword,

en toe het ek begin praat:

5 “Here, sê my tog

wanneer is my einde.

Wat is die getal

van my lewensdae?

Laat my besef

hoe lank my lewe

nog sal wees!

6 Kyk, U het my lewe

’n blote handbreedte lank gemaak.

My lewensduur

is byna niks in u oë nie.

Al is hy hoe selfversekerd,

die mens is verganklik.”

Sela

7 Die mens

is net ’n bewegende skaduwee.

Al sy gejaagdheid is tevergeefs:

Hy versamel rykdom,

maar weet nie wie

dit gaan gebruik nie.

8 Here, waarop kan ek dan hoop?

U is my enigste hoop.

9 Red my van my oortredings.

Moenie dat ek die spot

van dwase mense word nie.

10 Ek swyg voor U.

Ek sal nie ’n woord sê nie,

want U het dit gedoen.

11 Neem tog u beproewing

weg van my!

Ek is uitgeput

weens die las wat U op my lê.

12 As U ’n mens straf

oor sy sondes,

verteer U dit wat hy begeer

soos ’n mot.

Daar is geen twyfel nie:

Elke mens is waarlik

verganklik.

Sela

13 Luister tog na my gebed,

Here!

Luister na my geroep om hulp!

Moenie my trane miskyk nie.

Want ek is soos ’n vreemdeling

by U,

’n bywoner soos my voorouers.

14 Spaar my lewe

sodat ek weer kan glimlag

voordat ek doodgaan

en nie meer bestaan nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five + eleven =