My gesondheid is geknak
1 ’n Dawidspsalm. ’n Herinnering.
2 Here, moenie my
in toorn straf
en my in u woede kasty nie!
3 U pyle het my getref,
u hand lê swaar op my.
4 As gevolg van u toorn
is my hele liggaam beseer;
as gevolg van my sonde
is elke been gebreek.
5 My oortredings
het my oorweldig
soos ’n las
wat vir my te swaar is.
6 My wonde sweer en stink
weens my eie dwaasheid.
7 Ek is krom en heeltemal geboë.
Ek loop die hele dag en treur.
8 My liggaam brand van koors;
daar is geen deel wat gesond is nie.
9 Ek is uitgeput
en heeltemal platgeslaan.
Ek kreun met ’n versugting
uit ’n gebroke hart.
10 U weet wat ek begeer, Here.
U hoor elke versugting van my.
11 My hart klop onstuimig,
my krag begeef my.
Daarby kan ek ook
nie meer sien nie.
12 My familie en vriende bly weg
en is bang vir my siekte.
Selfs my bure
bly op ’n afstand.
13 Hulle wat my lewe soek,
stel vir my ’n lokval;
hulle wat my ondergang soek,
maak planne om my te vernietig.
Hulle dink die hele dag
aan verraderlike planne.
14 Maar ek hou my doof
vir hulle dreigemente.
Voor hulle bly ek stil
soos iemand wat stom is.
15 Ek is soos iemand wat doof is
en wat niks het
om te sê nie.
16 Maar ek hoop op U, Here.
U sal antwoord, Here my God.
17 Ek vra U:
“Moenie dat hulle bly word
oor my leed,
of hulle oor my verhef
as ek struikel nie.”
18 Ek is op die punt
van ineenstorting,
ek beleef voortdurende pyn.
19 Maar ek bely my sondes;
ek is baie jammer
oor wat ek gedoen het.
20 My vyande is baie en magtig;
hulle haat my sonder rede,
hulle wat so baie is.
21 Hulle vergeld my kwaad vir goed
en staan my teen
omdat ek najaag wat reg is.
22 Moet my tog nie verlaat nie,
Here my God,
moenie ver van my af bly nie.
23 Kom tog gou om my te help,
Here, my redder.