PSALMS 37

Die Here red die

regverdiges

1 ’n Dawidspsalm.

Moenie jou vererg

oor boosdoeners nie.

Moenie die kwaaddoeners

beny nie.

2 Want soos gras verlep hulle gou.

Soos plante

verdroog hulle vinnig.

3 Vertrou op die Here

en doen wat goed is.

Woon in die land

en geniet veiligheid.

4 Wees bly in die Here,

en Hy sal jou hartsbegeertes

aan jou gee.

5 Vertrou jou lewe toe

aan die Here.

Vertrou Hom,

en Hy sal vir jou sorg.

6 Hy sal jou onskuld

laat deurbreek

soos die lig,

en die regverdigheid van jou saak

soos die middagson.

7 Wees stil in die Here,

en wag geduldig op Hom.

Moenie die mens beny

wat op sý manier floreer,

of jou verknies

oor sy bose planne nie.

8 Moenie kwaad word nie;

laat staan liewer jou woede.

Moenie ander beny nie;

dit lei net tot jou nadeel.

9 Want die bose mense

sal vernietig word,

maar dié

wat op die Here vertrou,

sal die land besit.

10 Binnekort sal die boosdoeners

nie meer daar wees nie;

al soek jy na hulle,

sal jy hulle nie kry nie.

11 Maar sagmoediges

sal die land besit,

hulle sal oorvloedige vrede

geniet.

12 Die goddelose sweer saam

teen die regverdiges

en kners op die tande vir hulle.

13 Maar die Here lag vir hom,

want Hy sien

sy dag van oordeel

kom al nader.

14 Die goddelose trek die swaard

en span die boog

om die armes en behoeftiges

tot ’n val te bring,

om hulle wat reg doen,

dood te maak.

15 Maar hulle swaard

sal hulle eie hart deurboor

en hulle boog

sal stukkend gebreek word.

16 Dit is beter om vroom te wees

en min te besit

as om boos te wees

en baie besittings te hê.

17 Want die mag van die bose

sal verpletter word,

maar die Here

sal die regverdiges beskerm.

18 Die Here ken die lewensdae

van die opregtes,

en hulle erfdeel

sal vir altyd bly bestaan.

19 In slegte tye

sal hulle nie verleë wees nie;

selfs in hongersnood

sal hulle genoeg hê.

20 Maar die goddelose

sal vergaan.

Die vyande van die Here

sal wees soos mooi weivelde

wat soos rook verdwyn.

21 Die goddelose leen

en betaal nie terug nie,

maar die regverdige gee vrygewig.

22 Hulle vir wie die Here seën,

sal die land besit,

maar hulle wat Hy vervloek,

sal uitgeroei word.

23 Die Here bepaal

die rigting van ’n mens

met wie se lewe Hy tevrede is.

24 Al sou so een struikel,

hy sal nie val nie,

want die Here hou sy hand vas.

25 Ek was jonk, en nou is ek oud.

Maar ’n regverdige mens

wat verlate is,

het ek nooit gesien nie,

of dat sy kinders vir kos

moes bedel nie.

26 Hy leen altyd ruimskoots

aan ander,

en sy kinders is tot ’n seën.

27 Vermy die kwaad

en doen wat goed is,

dan sal jy vir altyd woon

in die land.

28 Want die Here het die reg lief,

en sal sy getroue dienaars

nie verlaat nie.

Hy sal hulle vir altyd

veilig bewaar,

maar die goddelose se kinders

sal vergaan.

29 Die regverdiges

sal die land besit

en daar vir altyd woon.

30 Die regverdige het wyse raad;

wat hy sê, is regverdig.

31 Die gebooie van sy God

is in sy hart.

Hy sal nie ’n voet

verkeerd sit nie.

32 Die goddelose

wag die regverdige in,

en wag vir die kans

om hom dood te maak.

33 Maar die Here verhoed

dat hy in hulle mag val

sodat hulle hom

skuldig kan bevind

wanneer hy voor die gereg kom.

34 Vertrou die Here

en volg sy voorskrifte.

Hy sal jou ophef

sodat jy die land sal besit

en die goddelose se uitwissing sal sien.

35 Ekself het dit sien gebeur:

Hoogmoedige en bose mense

floreer soos welige bome.

36 Maar toe ek weer kyk, was hulle weg!

Hoewel ek hulle gesoek het,

kon ek hulle nie kry nie!

37 Maar kyk na hulle

wat eerlik en opreg is,

want die toekoms van so ’n mens

is vol vrede.

38 Maar oortreders

word saam vernietig;

hulle toekoms

sal tot ’n einde kom.

39 Die Here red die regverdiges;

Hy is ’n toevlug

in moeilike tye.

40 Die Here help hulle,

en red hulle

van goddelose mense.

Hy red hulle,

want hulle skuil by Hom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

four × 3 =