Die Here is regverdig en
getrou
1 Vir die koorleier: ’n Psalm van Dawid,
die dienaar van die Here.
2 Die goddelose se opstand
kom uit sy hart.
Hy het nie ontsag vir God nie.
3 In sy blinde verwaandheid
sien hy nie sy sonde
om dit te haat nie.
4 Alles wat hy sê,
is sondig en vals.
Hy is nie verstandig nie
en doen nie die goeie nie.
5 Hy beplan kwaad
wanneer hy gaan lê.
Hy kies ’n pad wat nie goed is nie
en verwerp nie die kwaad nie.
6 Here, u goedheid
is eindeloos soos die heelal;
u trou tot by die wolke.
7 U regverdigheid
is soos die hoogste berge,
u oordeel
soos die diepste waters.
U sorg vir mense en diere, Here.
8 Hoe kosbaar is u trou, o God!
Die hele mensdom vind skuiling
in die skadu van u vleuels.
9 U voed hulle
uit die oorvloed van u huis,
en laat hulle drink
uit strome van vreugde.
10 Want by U is die fontein van die lewe,
in u lig sien ons die lig.
11 Laat u goedheid bly
by dié wat U erken
en u regverdigheid
by dié wat opreg is.
12 Moenie dat die hoogmoediges
my vertrap nie.
Moenie dat die goddeloses
my wegdryf nie.
13 Die kwaaddoeners val
daar waar hulle is,
hulle word neergegooi
en kan nooit weer opstaan nie.