PSALMS 35

As U my red, sal ek U prys

1 Van Dawid.

Kla dié aan wat my aankla,

Here.

Val húlle aan wat vir my aanval.

2 Vat kleinskild en grootskild.

Maak gereed

en kom tot my redding.

3 Neem u spies en werpspies op

teen hulle wat my agtervolg.

Laat ek hoor dat U sê:

“Ek is jou redding!”

4 Verneder hulle

wat my lewe soek,

en maak hulle tot skande.

Laat hulle wat kwaad

teen my beplan,

in verwarring omdraai.

5 Laat hulle wees

soos kaf voor die wind

wat die engel van die Here

wegblaas.

6 Maak hulle pad donker

en glibberig

terwyl die engel van die Here

hulle agtervolg.

7 Al het ek hulle

geen kwaad aangedoen nie,

het hulle

vir my ’n strik gestel.

Al het ek hulle nie benadeel nie,

het hulle vir my

’n gat gegrawe.

8 Daarom,

laat sy verderf skielik kom:

Laat hy in sy eie strik

gevang word.

Laat hy val in die gat

wat hy gegrawe het.

9 Dan sal ek juig in die Here,

ek sal my verheug

oor sy redding.

10 My hele wese sal uitroep:

“Here, wie is soos U

wat die hulpelose red

uit die mag van die sterke,

en die armes en behoeftiges

van dié wat roof?”

11 Kwaadwillige getuies

staan teen my op.

Hulle vra vir my dinge

waarvan ek niks weet nie.

12 Die goeie wat ek doen,

vergoed hulle met boosheid

terwyl ek siek is

van wanhoop.

13 Maar toe hulle siek was,

het ek van droefheid

rouklere gedra.

Ek het myself verneder

deur te vas,

maar my gebede

het teruggekom

sonder ’n antwoord.

14 Soos ’n vriend of ’n broer

het ek opgetree,

soos een wat treur oor sy moeder,

geboë en in rou.

15 Maar nou is hulle bly

wanneer ek struikel.

Hulle kom bymekaar,

en lasteraars

span saam teen my.

Dié wat ek nie eers ken nie,

trek my uitmekaar

sonder ophou.

16 Toe ek gestruikel het,

het hulle my gespot,

teen my hulle tande gekners.

17 Hoe lank, Here,

sal U net toekyk?

Red my van hulle vernietiging,

beskerm my van hulle wat my lewe

soos leeus bedreig.

18 Dan sal ek U dank

in die groot vergadering;

ek sal U prys

voor die groot skare

van mense.

19 Moenie toelaat

dat my verraderlike vyande

oor my lekkerkry,

of dat hulle

wat my sonder rede haat,

hulle verlekker

oor my leed nie.

20 Hulle praat nie oor vrede nie,

maar bedink vals

beskuldigings

teen onskuldige mense.

21 Hulle rek hulle monde oop

teen my

en sê: “Aha! Aha!

Ons het dit met ons eie oë gesien!”

22 Here, U het alles gesien.

Moenie stilbly nie!

Here, moenie ver van my af

wees nie.

23 Word wakker! Staan op!

Kom tot my verdediging!

Verdedig my saak,

my God en my Here!

24 Gee uitspraak oor my

in ooreenstemming met u

regverdigheid,

Here my God.

Moenie dat hulle

oor my lekkerkry nie.

25 Moenie dat hulle sê:

“Dis net wat ons wou hê!” nie.

Moenie dat hulle sê:

“Ons het hom vernietig!” nie.

26 Mag hulle wat juig

oor my nood,

verneder word

en in skande kom.

Mag hulle

wat op my neersien

met skaamte en oneer

bedek word.

27 Laat hulle wat juig

oor my vryspraak,

uitroep van vreugde

en blydskap.

Laat hulle voortdurend sê:

“Groot is die Here

wat Hom verheug

in die vrede van sy dienaar.”

28 Ek sal u geregtigheid verkondig,

ek sal U die hele dag lank prys.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

15 − eight =