na U
1 ’n Dawidspsalm.
Luister na my gebed, Here!
Hoor tog my smeekgebede.
Antwoord my, want U is getrou
en regverdig.
2 Moenie ’n regsgeding
teen u dienaar begin nie,
want niemand wat lewe,
is voor U onskuldig nie.
3 My vyand agtervolg my,
vertrap my teen die grond,
hy laat my in duisternis lewe
soos dié wat lankal dood is.
4 Ek het moed verloor;
ek is stomgeslaan.
5 Ek dink aan die dae,
lank gelede.
Ek peins oor al u dade,
ek oordink die werke
van u hande.
6 Ek strek my hande uit na U.
Ek dors na U
soos ’n verdorde land.
Sela
7 Antwoord my tog gou, Here,
want ek het moed verloor.
Moenie U vir my verberg nie,
anders word ek
soos dié wat sterf.
8 Laat ek in die oggend hoor
van u onfeilbare liefde,
want ek vertrou op U.
Wys my die pad
waarop ek moet loop,
want tot U rig ek my gebed.
9 Bevry my van my vyande,
Here,
want ek skuil by U.
10 Leer my om u wil te doen,
want U is my God.
Laat u goeie Gees my lei
op ’n pad wat gelyk is.
11 Here, laat my lewe
ter wille van u Naam;
lei my uit my nood,
want U is regverdig.
12 Vernietig my vyande
ooreenkomstig u trou;
laat al my teenstanders omkom,
want ek is u dienaar.