PSALMS 141

1 ’n Dawidspsalm.

Here, ek roep tot U;

maak tog gou!

Luister na my

wanneer ek na U roep!

2 Aanvaar my gebed

soos wierook voor U,

en my uitgestrekte hande

soos ’n offer in die aand.

3 Sit ’n wag voor my mond,

Here,

hou wag oor wat ek sê.

4 Bewaar my

van verkeerde begeertes

wat lei na bose dade,

saam met mense

wat sonde doen

en so saam eet

aan hulle lekkernye.

5 Regverdiges kan my slaan

in liefde,

en my ook teregwys.

Dis soos salwing van die kop

met olie,

wat ek nie sal weier nie.

My gebede is gedurig

teen boosdoeners gerig.

6 As hulle leiers afgegooi word

van ’n krans,

dán sal hulle my woorde hoor

en weet dit was goed.

7 Soos wanneer een wat ploeg

die aarde oopbreek,

so verspreid lê ons beendere

by die bek van die doderyk.

8 Maar my oë is op U gerig,

oppermagtige Here.

U is my toevlug;

moenie my oorgee

aan die dood nie.

9 Bewaar my van die strikke

wat hulle vir my gestel het,

van die vangnet

van hulle wat onreg doen.

10 Laat die goddeloses

in hulle eie vangnette val,

maar laat my vrykom daarvan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nine − 1 =