1 Prys die Here!
Prys die Naam van die Here!
Prys Hom,
dienaars van die Here,
2 julle wat diens doen
in die Here se huis,
in die voorhowe
van die huis van ons God.
3 Prys die Here,
want die Here is goed;
sing tot eer van sy heerlike Naam.
4 Die Here het Jakob
vir Hom gekies,
vir Israel as sy besondere besitting.
5 Ek weet die Here is groot,
ons Here is groter
as alle gode.
6 Die Here doen wat Hy wil,
in die hemel en op die aarde,
op die see
en in die diepste oseane.
7 Hy laat wolke
oor die aarde saampak.
Hy maak weerlig vir die reën
en bring die wind
uit sy stoorkamers.
8 Egipte se eerstelinge
het Hy getref,
mense sowel as diere.
9 Oor Egipte
het Hy wonders
en tekens gestuur,
oor die farao en al sy mense.
10 Hy het groot nasies verslaan
en magtige konings
doodgemaak:
11 Sihon, koning van die Amoriete,
Og, koning van Basan,
en al die koninkryke van Kanaän.
12 Hulle land
het Hy as erfdeel
aan Israel gegee,
as erfdeel vir sy volk Israel.
13 U Naam, Here,
duur vir altyd;
U word onthou, Here,
van geslag tot geslag.
14 Die Here sal reg verskaf
aan sy volk
en Hom ontferm oor sy dienaars.
15 Die afgode van die nasies
is voorwerpe van silwer
en goud,
die werk van mensehande.
16 Hulle het monde,
maar is stom.
Hulle het oë,
maar kan nie sien nie.
17 Hulle het ore,
maar kan nie hoor nie,
in hulle monde
is geen asem nie.
18 Hulle makers is net soos hulle,
so ook almal
wat op hulle vertrou.
19 Israel, loof die Here!
Priesters, nageslag van Aäron,
loof die Here!
20 Leviete, loof die Here!
Julle wat Hom dien,
loof die Here!
21 Loof die Here in Sion,
Hy wat woon in Jerusalem.
Prys die Here!