1 ’n Pelgrimslied.
Here, onthou tog vir Dawid
en alles wat hy
deurgemaak het.
2 Hy het ’n eed
voor die Here afgelê,
’n gelofte gemaak
aan die Magtige van Jakob:
3 “Ek sal nie huis toe gaan
en na my bed toe gaan nie.
4 Ek sal my oë nie laat slaap
of laat sluimer nie
5 tot ek ’n plek gekry het
vir die Here,
’n heiligdom
vir die Magtige van Jakob.”
6 Ons het gehoor
die ark is in Efrata,
en dit gekry
in die velde van Jaär.
7 Kom ons gaan sy woning binne;
laat ons laag voor Hom buig.
8 Kom na u rusplek toe, Here,
U en die ark,
die teken van u mag.
9 Laat u priesters geklee word
met regverdigheid;
mag u troue dienaars
sing van vreugde.
10 Ter wille van u dienaar Dawid,
moet tog nie u gesalfde
verwerp nie.
11 Die Here
het vir Dawid gesweer,
en dit staan vas.
Hy sal daarvan nie afwyk nie:
“Een van jou afstammelinge
sal Ek op jou troon laat sit.
12 As jou seuns luister
na my verbond
en die eise navolg
wat Ek hulle leer,
sal ook húlle seuns
vir altyd regeer.”
13 Want die Here het Sion gekies,
dit as sy woning begeer:
14 “Dit is my rusplek vir altyd.
Hier sal Ek woon,
want die plek het Ek begeer.
15 Ek sal die stad oorvloedig seën
met voedsel
en haar armes
van kos voorsien.
16 Haar priesters klee Ek
met redding;
haar getroues sal sing
van vreugde.
17 Hier vestig Ek
die mag van Dawid,
en ’n nageslag vir my gesalfde.
18 Ek klee sy vyande met skaamte,
maar sý kroon
sal bly skitter.”