af
1 ’n Pelgrimslied.
Baie kere, vanaf my jeug,
het hulle my verdruk.
Laat Israel nou ook sê:
2 Baie kere, vanaf my jeug,
het hulle my verdruk,
maar hulle kon nie die oorhand
oor my kry nie.
3 My rug is vol snye,
asof lang vore
daarop geploeg is.
4 Maar die Here is goed;
Hy het die bande afgesny
waarmee die goddeloses
my vasgemaak het.
5 Mag almal
wat Sion haat
skaam omdraai.
6 Mag hulle wees
soos gras op ’n dak,
wat verdroog
voor dit kan uitspruit,
7 en hy wat oes
niks het om af te sny,
en daar niks is
om op te tel nie.
8 Geen verbyganger sal sê:
“Die Here se seën is op julle;
ons seën julle
in die Naam van die Here” nie.