1 ’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na U,
U wat in die hemel woon.
2 Soos oë van slawe
gerig is op die hand
van hulle meester,
soos die oë van ’n slawedogter
gerig is op die hand
van haar werkgeefster,
so is ons oë gerig op die Here
ons God totdat Hy genadig is
oor ons.
3 Wees genadig oor ons, Here,
wees ons genadig,
want ons het baie veragting
verduur.
4 Ons het baie spot
verduur
van hoogmoediges,
en veragting
van die hooghartiges.