altyd
1 Loof die Here, want Hy is goed!
Sy goedheid duur vir altyd.
2 Laat Israel sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
3 Laat die huis van Aäron sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
4 Laat almal wat die Here dien, sê:
“Sy goedheid duur vir altyd.”
5 In my nood
het ek tot die Here gebid.
Die Here het my geantwoord
en my bevry.
6 Die Here is by my,
ek sal nie bang wees nie.
Wat kan ’n mens aan my doen?
7 Die Here is by my,
Hy help my.
Ek sal neersien op my haters.
8 Dit is beter
om by die Here te skuil
as om staat te maak op mense.
9 Dit is beter
om by die Here te skuil
as om op vername mense
te vertrou.
10 Al die nasies het my omsingel;
in die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
11 Hulle het my inderdaad
van alle kante omsingel,
maar in die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
12 Soos bye
het hulle om my geswerm,
maar soos brandende
doringtakke
is hulle geblus.
In die Naam van die Here
het ek hulle afgeweer.
13 Hulle het probeer
om my heeltemal om te stoot,
maar die Here het my gehelp.
14 Die Here is my sterkte
en my beskerming;
Hy het my redder geword.
15 Vreugdeliedere van redding
word gesing
in die tente van die regverdiges.
Die Here se regterhand
het roemryke dinge gedoen.
16 Die Here se regterhand
is triomfantlik omhoog.
Die Here se regterhand
het roemryke dinge gedoen.
17 Ek sal nie sterf nie,
maar lewe,
en van die Here se werke vertel.
18 Die Here
het my swaar gestraf,
maar nie aan die dood
oorgegee nie.
19 Maak oop vir my
die poorte van regverdigheid,
dan sal ek ingaan
en die Here loof.
20 Dit is die poort na die Here;
die regverdiges gaan hier in.
21 Ek prys U
omdat U my verhoor het
en my redder geword het.
22 Die klip
wat die bouers afgekeur het,
het nou die sluitsteen geword.
23 Dit is die werk van die Here,
en wonderlik vir ons
om te aanskou.
24 Dit is die dag
wat die Here gemaak het.
Laat ons daaroor juig
en bly wees.
25 Here, red ons tog,
Here, gee ons tog voorspoed.
26 Geseënd is die een
wat kom
in die Naam van die Here.
Ons seën julle
uit die tempel van die Here.
27 Die Here is God,
Hy laat sy lig oor ons skyn.
Begin die optog, wuif die takke!
Stapel dit op
tot by die horings van die altaar.
28 U is my God, en ek wil U prys!
My God,
ek sal U hemelhoog prys!
29 Wees dankbaar teenoor die Here,
want Hy is goed!
Sy goedheid duur vir altyd!