PSALMS 115

1 Nie aan ons nie, Here,

nie aan ons nie,

maar aan u Naam

kom toe die eer

op grond van u liefde en u trou.

2 Waarom sou die nasies dan sê:

“Nou waar is hulle God?”

3 Maar ons God is in die hemel

en Hy maak soos Hy wil.

4 Húlle afgode

is van silwer en goud,

deur mensehande gemaak.

5 Hulle het monde,

maar praat nie,

hulle het oë,

maar kan nie sien nie.

6 Hulle het ore,

maar kan nie hoor nie,

ook het hulle neuse,

maar kan nie ruik nie;

7 hulle het hande,

maar kan nie voel nie,

hulle het voete,

maar kan nie loop nie.

Hulle kan nie eers geluide maak

met hulle kele nie!

8 Hulle makers

sal net soos hulle afgode wees,

so ook almal

wat op hulle vertrou.

9 Israel, vertrou op die Here!

Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.

10 Huis van Aäron,

vertrou op die Here!

Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.

11 Julle almal wat die Here dien,

vertrou op die Here!

Hy is hulle helper, Hy is hulle skild.

12 Die Here dink aan ons

en seën ons.

Hy seën die huis van Israel,

Hy seën die huis van Aäron,

13 Hy seën hulle

wat die Here dien,

sowel klein as groot.

14 Mag die Here

julle vermeerder,

julle en julle kinders.

15 Mag die Here julle seën,

Hy wat hemel en aarde

gemaak het.

16 Die hemele

behoort aan die Here,

maar die aarde het Hy

vir die mensdom gegee.

17 Dooies kan die Here

nie prys nie,

ook nie hulle wat

die grafstilte binnegaan nie.

18 Maar óns kan die Here loof,

nou en vir altyd!

Prys die Here!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

9 + thirteen =