barmhartig
1 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die vergadering
van die gemeente,
in die byeenkoms
van die opregtes.
2 Die dade van die Here is groot!
Almal wat daaroor bly is,
dink hieroor na.
3 Heerlik en vol majesteit
is sy werke.
Sy geregtigheid
hou vir altyd stand.
4 Sy wonders
sal altyd onthou word.
Genadig en barmhartig is ons Here!
5 Hy voed hulle wat Hom dien;
Hy onthou altyd sy verbond.
6 Hy het sy kragtige dade
aan sy volk getoon
deur die land van ander nasies
aan hulle te gee.
7 Alles wat Hy doen, is waar en reg,
en al sy voorskrifte is betroubaar.
8 Hulle is vir altyd geldig,
en met trou en opregtheid
moet dit gehoorsaam word.
9 Hy het ’n losprys vir sy volk betaal,
en sy verbond vir altyd gewaarborg.
Heilig en ontsagwekkend
is sy Naam!
10 Eerbied vir die Here
is die begin van wysheid.
Dié wat sy voorskrifte navolg,
het goeie insig.
Hy sal vir altyd geprys word!