PSALMS 108

o God!

1 ’n Dawidspsalm. ’n Lied.

2 Ek vertrou geheel en al op U, o God.

Ek wil sing, ja,

U heelhartig eer.

3 Word wakker, harp en lier!

Ek wil die dagbreek

wakker maak!

4 Voor die volke wil ek U prys,

Here,

onder die nasies

wil ek u lof besing.

5 Want u trou

is hoog bo die hemele,

u waarheid reik

tot in die wolke.

6 Wees verhewe

tot bo die hemele, o God,

en laat u heerlikheid erken word

oor die hele aarde.

7 Red ons met u krag en help ons

sodat U u geliefde volk

kan red.

8 God het dit

by sy heiligheid belowe:

As oorwinnaar

sal Ek Sigem verdeel

en die vallei van Sukkot uitmeet.

9 Gilead is Myne,

en Manasse behoort aan My.

Efraim

sal my krygsmanne oplewer,

en Juda my konings.

10 Moab

sal my nederige dienaar word

en Edom sal my slaaf wees.

Oor Filistea juig Ek

as oorwinnaar.

11 Wie sal my lei

na die versterkte stad?

Wie sal my na Edom toe bring?

12 Het U ons verwerp, o God?

Gaan U, o God,

nie saam met ons leërs

opruk nie?

13 Help ons tog teen ons vyande,

want menslike hulp

is waardeloos.

14 Met God se hulp

sal ons seëvier,

want Hy sal ons vyande vertrap.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eighteen + 5 =