PSALMS 106

genade

1 Prys die Here!

Dank die Here,

want Hy is goed!

Sy trou ken geen einde nie.

2 Wie kan die magtige dade

van die Here beskryf,

of sy lof ten volle bekendmaak?

3 Gelukkig is hy

wat geregtigheid laat geskied

en wat altyd doen

wat reg is.

4 Dink aan my, Here,

wanneer U aan u volk

guns bewys;

kom my met u redding

tot hulp

5 sodat ek deel kan hê

aan die voorspoed

van u uitverkorenes,

my verheug in die vreugde

van u nasie,

en U loof saam met u eie volk.

6 Ons en ons voorouers

het gesondig.

Ons het oortree en is skuldig.

7 In Egipte het ons voorouers

die Here se wonders

gering geag,

en sy baie dade

van goedheid vergeet.

By die Rietsee het hulle

teen Hom in opstand gekom.

8 Tog het Hy hulle gered

ter wille van

die eer van sy Naam,

om sy mag

bekend te maak.

9 Op sy bevel

het die Rietsee opgedroog

sodat Israel op die seebodem

kon trek.

Dit was so droog

soos ’n woestyn.

10 Uit die vyand se mag

het Hy hulle gered

en hulle uit hulle teenstanders

se mag verlos.

11 Water het toe hulle vyande

bedek.

Nie een van hulle

het dit oorleef nie.

12 Toe eers het Israel

sy beloftes geglo

en het hulle sy lof besing.

13 Tog het hulle

gou sy dade vergeet

en nie op sy leiding gewag nie.

14 In die woestyn

het hulle begeertes opgevlam.

In die wildernis

het hulle God se geduld

beproef.

15 Hy het gegee

wat hulle gevra het,

maar hulle ook getref

met ’n siekte.

16 In die kamp

was hulle jaloers op Moses,

en ook Aäron,

wat aan die Here gewy was.

17 Die aarde het oopgegaan,

Datan ingesluk,

en Abiram en sy bende begrawe.

18 Onder die bende

het vuur gewoed,

vlamme het die bose mense verteer.

19 By Horeb

het hulle ’n kalf gemaak,

en ’n beeld van metaal aanbid.

20 Hulle roemryke God

het hulle verruil

vir die beeld van ’n bees

wat gras vreet.

21 Hulle het God vergeet,

hulle redder

wat in Egipte

groot dinge gedoen het:

22 wonderlike dinge

in die land Egipte,

ontsagwekkende dade

by die Rietsee.

23 Hy het gesê

Hy sou hulle vernietig,

maar Moses, sy uitverkorene,

het vir die volk

in die bres getree

en gepleit

dat God hulle nie

in sy toorn vernietig nie.

24 Maar die volk

het die vrugbare land verwerp,

en nie sy beloftes geglo nie.

25 Hulle het in hulle tente gekla

en nie na die Here

geluister nie.

26 Daarom het Hy ’n eed afgelê

dat Hy hulle in die woestyn

sal laat omkom,

27 dat hulle nakomelinge

onder die nasies sou sterf,

en oor die aarde

verstrooi sou word.

28 Maar hulle het Baäl-Peor

vereer

en geëet van die offers

wat aan dooie afgode gewy is.

29 Met hulle dade

het hulle Hom getart

sodat ’n plaag hulle getref het.

30 Maar Pinehas

het tussenbeide getree,

en so is die plaag gestuit.

31 Hy is beskou

as ’n regverdige man,

geslag na geslag, vir altyd.

32 By die waters van Meriba

het hulle die Here

kwaad gemaak,

en so het hulle vir Moses

ernstige probleme besorg.

33 Hulle het hom opstandig gemaak

sodat hy onbesonne dinge

gesê het.

34 Israel

het nie die nasies uitgeroei

soos die Here

hulle beveel het nie

35 en het eerder

met die nasies vermeng

en hulle bose gewoontes

aangeleer.

36 Hulle het die nasies se afgode

vereer,

en dit het vir hulle

’n strik geword.

37 Hulle het hulle seuns

en dogters

aan demone geoffer.

38 Hulle het onskuldige bloed

vergiet,

bloed van hulle seuns en dogters

wat hulle geoffer het

aan die afgodsbeelde

van Kanaän,

en so die land met bloed bevlek.

39 Hierdie dade

het hulle onrein gemaak,

net soos iemand

wat egbreuk pleeg.

40 Die Here se toorn

het teen sy volk ontbrand,

en Hy het sy eie volk verafsku.

41 Hy het hulle oorgegee

aan die nasies;

hulle haters

het oor hulle geheers.

42 Hulle vyande

het hulle verdruk

en aan hulle mag onderwerp.

43 Baie kere

het Hy sy volk verlos,

maar hulle het opstandig gebly

en verder in hulle sondes

weggesink.

44 Tog het Hy

hulle ellende raakgesien,

en geluister na hulle hulpgeroep.

45 Hy het gedink

aan sy verbond met hulle,

en Hy was genadig

op grond van

sy onfeilbare liefde.

46 Hy het bewerk

dat hulle veroweraars

hulle met medelye behandel het.

47 Here ons God, red ons!

Versamel ons weer

uit die nasies

sodat ons u heilige Naam

kan prys,

in U bly kan wees,

en U kan loof.

48 Geseënd is die Here,

God van Israel,

van ewigheid tot ewigheid!

Laat die hele volk sê: “Amen!”

Prys die Here!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

16 + fourteen =