PSALMS 105

beloftes

1 Dank die Here,

maak sy Naam bekend!

Maak sy dade bekend

aan die nasies.

2 Sing vir Hom, sing tot sy eer!

Vertel van sy wonderdade

aan almal.

3 Roem sy heilige Naam.

Wees bly,

dienaars van die Here!

4 Vra na die Here en sy krag,

hou aan om Hom te soek.

5 Dink aan sy wonderdade,

sy tekens en sy regspraak.

6 Kinders van Abraham,

sy dienaar,

nakomelinge van Jakob,

God se uitverkorenes.

7 Hy is die Here ons God.

Sy uitsprake

is oor die hele aarde.

8 Hy sal sy verbond altyd onthou,

die bepalings wat Hy beveel het

vir duisend geslagte,

9 die verbond

met Abraham gesluit

en sy eed aan Isak.

10 Hy het dit aan Jakob bevestig

as ’n vaste bepaling,

aan Israel

as ’n voortdurende verbond:

11 “Ek gee die land Kanaän

vir jou

as jou eie besitting.”

12 Toe hulle maar min was,

’n klein groepie mense

en vreemdelinge in die land,

13 het hulle rondgetrek

tussen die volke,

van een koninkryk

na die ander.

14 Hy het nie toegelaat

dat hulle verdruk word nie.

Ter wille van hulle,

het Hy konings gewaarsku:

15 “Moenie my gesalfdes

aanraak,

en my profete

kwaad aandoen nie.”

16 Hy het ’n hongersnood

oor die land gebring,

en hulle kosvoorrade

laat opraak.

17 Hy het iemand vooruitgestuur:

Josef, wat verkoop is as slaaf.

18 Sy voete het hulle

in boeie gedwing,

en sy nek

in ’n ysterhalsband gesit

19 tot sy woord

waar geword het,

en die Here se woord

hom reg bewys het.

20 Toe het Farao hom vrygelaat;

die heerser oor volke

het hom bevry.

21 Hy het hom aangestel

oor sy huis,

met gesag oor al sy eiendomme.

22 Hy kon aan sy beamptes

bevele gee,

en sy hoofamptenare

wysheid leer.

23 Toe het Israel

na Egipte toe gekom.

Jakob het as vreemdeling

in die land Egipte

gaan woon.

24 Die Here het sy volk

laat vermeerder

en hulle was magtiger

as die vyande.

25 Hy het hulle gesindheid

verander

sodat hulle sy volk gehaat het,

en listig saamgesweer het

teen die dienaars van die Here.

26 Hy het Moses, sy dienaar,

gestuur,

en vir Aäron, wat Hy verkies het.

27 Hulle het wondertekens

tussen hulle verrig,

en wonderwerke

in die land Egipte.

28 Hy het duisternis gestuur,

en dit het donker geword.

Nogtans het die Egiptenaars

hulle teen sy bevele verset.

29 Hy het hulle water

in bloed verander,

en so al die visse laat vrek.

30 Toe het paddas

die land oordek,

tot in die koning se slaapkamer.

31 Op sy bevel

het swerms insekte gekom,

en muggies oor die hele land.

32 Hy het hael gestuur

in plaas van reën,

en weerlig oor hulle hele land.

33 Wingerde en vyebome

het Hy getref,

en al hulle bome

stukkend geslaan.

34 Op sy bevel

het sprinkane gekom,

hordes sprinkane sonder tal.

35 Al die groen plante in die land

het hulle verorber,

al die produkte van die landerye

het hulle vernietig.

36 Die oudste seuns in hulle land

het Hy laat sterf,

die eerstelinge

van elke huisgesin.

37 Toe het Hy Israel

uit Egipte uitgelei,

oorlaai met silwer en goud.

Niemand in die stamme

het gestrompel nie.

38 Egipte was bly

toe hulle getrek het,

want hulle was almal

baie bang vir hulle.

39 Die Here het as bedekking

’n wolk oor hulle uitgesprei,

en vuur om die nag te verlig.

40 Hulle het kos gevra,

en Hy het kwartels gestuur;

met brood uit die hemel

het Hy hulle versadig.

41 Hy het ’n rots gekloof,

en water het uitgestroom,

’n rivier het

in dorre plekke gevloei.

42 Hy het inderdaad sy heilige belofte

aan Abraham sy dienaar

onthou.

43 Hy het sy volk

met vreugde gelei,

sy uitverkorenes uitgelei

met gejuig.

44 Die lande van nasies

het Hy aan hulle gegee,

en wat ander geplant het,

het hulle geoes

45 sodat hulle sy gebooie

sou onderhou

en sy voorskrifte

sou gehoorsaam.

Prys die Here!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five × 4 =