PSALMS 104

1 Ek wil die Here prys!

Here my God,

hoe geweldig groot is U!

U is beklee met majesteit

en eer,

2 bedek met ’n mantel van lig.

U span die hemelkoepel

soos ’n tent;

3 U bou u woning

in die waters daarbo.

U maak die wolke u strydwa.

U ry op die vlerke

van die wind.

4 Die winde is u boodskappers,

die weerligstrale u dienaars.

5 U vestig die aarde

op sy fondamente

sodat dit nooit sal bewe nie.

6 Diepwaters

het dit soos ’n kleed bedek,

water het bo-oor die berge

gestaan.

7 U bevel

het die water laat wegvlug;

u magtige stem

het hulle laat vlug.

8 Berge het verrys

en valleie het gedaal

na die plek wat U bepaal het.

9 U het vir die waters

’n perk gestel wat

hulle nie mag oortree nie,

sodat hulle

nie die aarde oorspoel nie.

10 U laat fonteine water stort

in klowe,

wat stroom tussen die berge deur.

11 Daar drink elke dier

van die veld,

selfs wildedonkies

les hulle dors.

12 Die voëls van die hemel maak nes

langs die strome

en sing tussen die bome se takke.

13 Uit u hemelwoonplek laat U reën

op berge,

U vul die aarde

met die vrugte wat U laat groei.

14 U laat gras groei vir die beeste,

en plante vir die mens,

kos wat uit die aarde voortkom,

15 wyn om harte bly te maak,

olie om die gesig te versorg,

en brood om krag te voorsien.

16 Die bome van die Here

kry volop reën,

hierdie seders van die Libanon

wat Hy geplant het.

17 Daar maak die voëls

hulle neste,

en bou die ooievaar sy nes

in die toppe van hoë bome.

18 Die hoë berge

is vir die klipbokke,

en die rotse

’n skuilplek vir dassies.

19 Die maan het Hy gemaak

om seisoene aan te dui,

en die son weet

wanneer om onder te gaan.

20 U stuur duisternis,

en dit word nag,

al die diere van die bos

sluip rond.

21 Dan brul die leeus

op soek na prooi;

ook hulle vra kos van God.

22 Teen dagbreek sluip hulle weg

om by hulle lêplekke te rus.

23 Dan gaan die mens na sy werk

en arbei tot die aand.

24 Here, hoe baie is u werke!

U het alles met wysheid

gemaak.

Die aarde is vol van u skepsels.

25 Daar is die oseaan,

groot en wyd.

Dit wemel van diere,

lewende wesens,

groot en klein.

26 Daar is die skepe

wat oral rondvaar;

en ook die Leviatan,

wat U gemaak het

om mee te speel.

27 Elkeen van hulle reken op U

om kos te gee

volgens behoefte.

28 U gee vir hulle,

hulle versamel dit.

U maak u hand oop,

met die goeie

word hulle versadig.

29 As U U onttrek,

is hulle verskrik.

Neem U hulle asem weg,

dan sterf hulle

en word weer stof.

30 U stuur u lewensasem,

en lewe word geskep.

Uit die grond

laat U nuwe lewe spruit.

31 Mag die heerlikheid

van die Here

vir altyd duur!

Mag die Here Hom verheug

in al sy werke!

32 Hy kyk na die aarde,

en dit skud;

Hy raak aan die berge,

en dit brand.

33 Lewenslank

sal ek die Here besing,

en God prys met my laaste asem.

34 Mag my gedagtes

Hom verheug,

want ek is bly in die Here.

35 Mag sondaars

van die aarde af verdwyn;

mag die goddeloses

nie meer bestaan nie.

Wat my betref,

ek wil die Here loof!

Prys die Here!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nineteen − 2 =