PSALMS 102

Here

1 ’n Gebed van iemand wat oorweldig is

met probleme en nou voor die Here kla.

2 Here, luister na my gebed!

Hoor my smeking om hulp!

3 Moenie van my wegdraai

wanneer ek in nood is nie.

Luister tog

wanneer ek U aanroep

en antwoord my tog gou,

4 want my dae verdwyn

soos rook,

my bene brand

soos gloeiende kole.

5 My hart is verdor,

verlep soos gras;

ek het vergeet hoe om te eet.

6 As gevolg van my versugting

is ek net vel en been.

7 Ek is soos ’n uil in die woestyn,

soos ’n naguil tussen murasies.

8 Ek lê wakker,

soos ’n eensame voël

op ’n dak.

9 My vyande beledig my

dag na dag.

Hulle spot en vloek my.

10 Ek eet as in plaas van kos.

My trane meng

met wat ek drink

11 weens u gramskap en u toorn.

Ja, U het my opgetel

en my weggegooi.

12 My lewe is soos ’n skaduwee

wat langer word.

Ek is verskrompeld soos gras.

13 Maar U, Here,

sal vir altyd regeer.

U bly onthou van geslag tot geslag.

14 U sal verskyn

en U oor Sion ontferm,

want dis tyd

om genadig te wees;

die bestemde tyd het aangebreek.

15 Want u dienaars

het elke klip daarvan lief,

en ontferm hulle

selfs oor die puin.

16 Nasies sal die Here se Naam

vereer,

die konings van die aarde,

u mag.

17 Wanneer die Here Jerusalem

herbou,

sal Hy verskyn in sy heerlikheid,

18 sal Hy luister

na behoeftiges se gebede,

en hulle pleidooi

nie verwerp nie.

19 Dit moet opgeskryf word

vir geslagte wat kom

sodat ’n volk

wat nog geskep sal word,

die Here sal prys.

20 Vanuit sy hemelse heiligdom

het Hy neergekyk.

Die Here het vanuit die hemel

na die aarde gekyk

21 om te luister na die smekinge

van mense in tronke;

om hulle wat veroordeel is,

te red van die dood,

22 sodat hulle die Naam van die Here

in Sion sal verkondig,

en sy lofsange in Jerusalem,

23 wanneer skares bymekaarkom,

en koninkryke kom

om die Here te dien.

24 In my jeug

het Hy my krag gebreek,

Hy het my dae verkort.

25 Maar ek het gesmeek:

“My God,

moenie my lewe neem

terwyl ek nog so jonk is nie!

U is daar, geslag na geslag.

26 In die begin

het U die aarde gevestig;

die hemele is die werk

van u hande.

27 Hulle sal vergaan,

maar U is vir altyd;

soos klere sal hulle verslyt.

U sal hulle uittrek

soos kledingstukke,

en hulle sal verdwyn.

28 Maar U is altyd dieselfde;

u jare ken geen einde nie.

29 Die kinders van u dienaars

sal in die land woon.

Hulle nageslag

sal voor U gevestig word.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nineteen − eight =