PREDIKER 3

’n Tyd vir alles

1 Daar is ’n vaste tyd vir alles,

elke ding onder die son

het sy tyd:

2 ’n Tyd om gebore te word

en ’n tyd om te sterf.

’n Tyd om te plant

en ’n tyd om uit te ruk

wat geplant is.

3 ’n Tyd om dood te maak

en ’n tyd om gesond te maak.

’n Tyd om af te breek

en ’n tyd om op te bou.

4 ’n Tyd om te huil

en ’n tyd om te lag.

’n Tyd om te treur

en ’n tyd

om van vreugde te dans.

5 ’n Tyd om jou saad te saai

en ’n tyd

om jou saad terug te hou.

’n Tyd om te omhels

en ’n tyd om weg te bly

van omhelsing.

6 ’n Tyd om te soek

en ’n tyd om te verloor.

’n Tyd om op te pas

en ’n tyd om weg te gooi.

7 ’n Tyd om te skeur

en ’n tyd om vas te werk.

’n Tyd om stil te bly

en ’n tyd om te praat.

8 ’n Tyd om lief te hê

en ’n tyd om te haat.

’n Tyd vir oorlog

en ’n tyd vir vrede.

9 Watter voordeel is daar

vir die een wat iets doen

wat hom vermoei?

10 Ek het nagedink oor die taak

waarmee God die mens belas.

11 Hy het alles mooi gemaak,

Hy het aan die mens

’n visie gegee

van die ewigheid.

Tog kan mense nie

die volle omvang

van God se werk,

van begin tot end,

verstaan nie.

12 Ek het besef daar is vir mense

niks beter nie

as om vrolik te wees

en tydens sy lewe

die goeie te geniet.

13 Mense moet eet en drink

en onder al hul moeite

nog die goeie kan geniet.

Dit is geskenke van God.

14 Ek weet alles wat God doen,

is vir ewig.

Niemand kan daar iets byvoeg

of daar iets van wegneem nie.

God doen dit sodat die mens

Hom sal eer.

15 Wat is, was reeds.

Wat nog sal wees,

was ook alreeds,

God soek dít op

wat alreeds verby is.

Die lewe is onregverdig

16 Ek het nog iets

onder die son opgemerk:

In die plek waar reg moet wees,

was daar onreg.

In die plek waar daar

geregtigheid moes wees,

was daar boosheid.

17 Toe het ek by myself gedink:

“God spreek reg

oor die regverdige en goddelose,

want daar is ’n tyd vir elke saak,

ook vir alles

wat gedoen word.”

Almal is van stof

18 Ek het besef

God laat mense toe

om in hulle boosheid

te volhard,

want Hy toets hulle.

So kan hulle insien

dat hulle niks beter is

as diere nie.

19 Die mens se lot

is dieselfde

as die dier s’n.

Die een gaan dood,

nes die ander.

Hulle deel dieselfde asem.

Die mens het geen voordeel

bo diere nie,

want alles is sinloos.

20 Almal gaan na dieselfde plek.

Hulle kom uit die stof

en hulle word weer stof.

21 Wie weet of die asem

van die mens

boontoe gaan

en diere se asem

afgaan na die aarde toe?

22 Ja, ek het agtergekom dat daar

niks beter is nie

as dat mense gelukkig is

in hulle werk.

Dit kom die mens toe.

Wie kan hom laat weet

wat ná hom sal gebeur?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

17 − six =