Die moeder van almal wat
seksuele wanpraktyke beoefen,
1 Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik en die aarde is deur sy glans verlig.
2 Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep:
“Geval, geval het die grote Babilon!
Dit het die wegkruipplek geword
van die bose geeste,
’n skuilplek van elke onrein gees,
’n nes van elke onrein roofvoël
en van haatlike diere.
3 Al die nasies het dronk geword
van die dwelmdrank van
haar seksuele wanpraktyke.
Die konings van die aarde het
ongeoorloofde seksuele
verhoudings
met haar gehad,
en die handelaars van die aarde
het ryk geword
uit haar grenslose weelde.”
4 Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê:
“Verlaat haar, my volk,
sodat julle nie deel het
aan haar sondes
en haar plae
julle nie ook tref nie.
5 Haar sondes het so hoog
soos die hemel
opgehoop
en God het haar wandade
onthou.
6 Gee aan haar terug
wat sy uitgedeel het,
en gee aan haar dubbel soveel
as wat sy aan julle gedoen het.
In die beker waarin sy vervolging
vir julle gemeng het,
moet julle twee keer soveel
inskink.
7 In dieselfde mate waarin sy
haarself verheerlik
en weelderig geleef het,
moet julle haar ook pyn en smart
aandoen.
In haar hart spog sy:
‘Ek sit as ’n koningin op my
troon.
Ek is nie ’n weduwee nie;
smart sal ek nooit ken nie.’
8 Daarom sal al haar plae
haar op een dag oorweldig:
dodelike siekte, smart
en hongersnood.
Sy sal deur vuur verteer word,
want krágtig is die Here God
wat haar oordeel.”
9 Die konings van die aarde wat seks met haar gehad het en hulle in weelderigheid gebaai het, sal huil en met groot droefheid reageer wanneer hulle die rook van haar uitgebrande liggaam sien.
10 Omdat haar pyniging hulle die skrik op die lyf jaag, sal hulle ver weg gaan staan terwyl hulle sê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik
is dit tog vir die groot stad
Babilon,
die magtige stad!
Binne een uur
het die oordeel jou getref!”
Die handelaars van die aarde
huil oor hulle verlies
11 Die handelaars van die aarde huil en rou oor haar omdat niemand meer hulle vragte goed koop nie:
12 vragte goud en silwer, kosbare stene en pêrels, fyn pers klerasie en bloedrooi sy, elke soort hout, elke ivoorvoorwerp, elke kosbare voorwerp van hout, koper of yster of marmer,
13 kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie en slawe – sy het selfs met menselewens gesmous.
14 Hulle sê:
“Hierdie luukse waarna jy
in jou diepste binneste
gesmag het,
is jou nou ontneem.
Al die weelderige
en blink dinge
is nou vir jou verlore
en hulle sal dit nêrens
en nooit weer vind nie.”
15 Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op ’n afstand gaan staan, omdat hulle bang is vir die foltering wat sy deurgaan. Hulle sal huil en rou
16 terwyl hulle sê:
“Hoe vreeslik,
hoe vreeslik
is dit tog vir die groot stad,
uitgevat in fyn linneklere,
pers en bloedrooi,
en opgesmuk met goud,
kosbare stene en pêrels.
17 In een enkele uur
is soveel rykdom uitgewis!”
Die seelui treur oor Babilon se
vernietiging
Elke stuurman en elkeen wat per skip iewers heen vaar, die matrose en almal wat van die see afhanklik is, het op ’n afstand gaan staan,
18 en hulle het geskreeu toe hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle het gesê: “Watter stad was soos dié groot stad?”
19 Hulle het toe stof op hulle koppe gestrooi en dit uitgeskreeu. Huilend en in rou gedompel, het hulle aanhou sê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik
is dit tog vir die groot stad!
Almal wat skepe besit op die see,
het hulle verryk uit haar bates.
In een enkele uur is sy verwoes.”
20 Wees uitgelate oor haar val, hemel,
en julle wat aan God gewy is,
apostels en profete!
God het die oordeel wat julle
uitgespreek het,
inderdaad oor haar gebring.
Die magtige Babilon het stil en
verlate geword
21 Toe het ’n baie sterk engel ’n yslike rots, so groot soos ’n maalklip, gevat en dit in die see gegooi en gesê:
“Net so gewelddadig sal
neergegooi word
Babilon, die groot stad,
en niemand sal dit
ooit weer vind nie.
22 Die geluid van siterspelers en
sangers,
van fluitspelers en
trompetblasers
sal nooit weer in jou
gehoor word nie.
Geen ambagsman, van watter
ambag ook al,
sal ooit weer in jou gevind word
nie.
Die geluid van ’n meule
sal nooit weer in jou
gehoor word nie.
23 Die lig van ’n lamp
sal nooit weer in jou skyn nie.
Die stem van ’n bruidegom en
bruid
sal nooit weer in jou
gehoor word nie.
Jou handelaars was die magnate
van hierdie aarde,
want deur jou bedrieëry het hulle
al die nasies om die bos gelei.”
24 In Babilon se strate is die bloed
van die profete gevind,
en van hulle wat aan God
toegewy is,
ja, almal wat op die aarde
doodgemaak is.