Die Here se woede
1 Soos ’n donker wolk
het die Here se woede
oor Jerusalem gekom.
Hy het van bo uit die hemel
die mooi stad van Israel
in die grond gedruk.
Toe Hy kwaad geword het,
het Hy selfs die tempel
nie gespaar nie.
2 Die Here het sonder genade
elke huis in Israel vernietig.
In sy woede
het Hy die versterkte mure
van Jerusalem
omgestamp.
Hy het hulle koninkryk
met al sy leiers
in die aarde weggetrap.
3 Hy het gekook van woede
toe Hy Israel se krag
gebreek het.
Hy het nie ’n hand gelig
om hulle te help
toe hulle vyand
hulle aangeval het nie.
Hy was soos ’n vuur
wat van alle kante af
teen Israel uitgebreek het.
4 Hy het sy boog gespan
teen sy mense
asof hulle sy vyand is.
Hy het sy krag gebruik
om alles te verwoes
wat kosbaar is.
Hy het sy woede
soos vuur laat uitbreek
teen alles wat kosbaar is in
Jerusalem.
5 Die Here het Israel verwoes
asof dit sy vyand is.
Al hulle blyplekke en vestings
het Hy afgebreek.
Baie hartseer en trane
het Hy in Jerusalem gebring.
6 Hy het sy tempel afgebreek
asof dit ’n afdak in ’n tuin was.
Die Here het ’n einde gemaak
aan feeste en Sabbatte in Sion.
In sy verontwaardiging
het Hy koning en priester
uit die weg geruim.
7 Die Here het sy eie altaar verwerp.
Hy het sy tempel verag.
Hy het die vyand toegelaat
om Jerusalem se vestingmure
af te breek.
Hulle het in die Here se huis
lawaai gemaak
asof hulle daar feesvier.
8 Die Here het besluit:
Sion se mure
moet afgebreek word.
Hy het finaal besluit
om dit te verwoes.
Die versterkings en die mure
het saam ineengestort.
9 Jerusalem se hekke
lê op die grond.
Die Here het hulle
uit hulle skarniere geruk.
Haar koning en haar leiers
het by vreemde volke beland.
Die wet het verdwyn.
Profete kry nie meer visioene
van die Here af nie.
10 Die leiers van Jerusalem
sit stomgeslaan op die grond.
Hulle het begrafnisklere aan
en gooi grond op hulle koppe
soos hulle treur.
Die jongmeisies van Jerusalem
laat uit skaamte
hulle koppe hang.
11 My oë is leeg gehuil.
Ek is bitter ontsteld as ek sien
hoe my volk in duie stort.
Kinders en babatjies val flou
en sterf in die stad se strate.
12 “Ons is honger,”
sê die kinders vir hulle ma’s.
In die strate sak hulle inmekaar
soos iemand wat gewond is.
Hulle sterf in die arms
van hulle ma’s.
13 Met wie kan ek jou vergelyk,
Jerusalem?
Waarmee kan ek jou smarte vergelyk,
Jerusalem?
Hoe kan ek jou troos?
Jou hartseer
is dieper as die see.
Wie sal jou ooit weer
heel kan maak?
14 Jou profete het vir jou
drogbeelde opgetower.
Hulle het nie jou oortredings
sigbaar gemaak nie.
Dit sou verhoed het dat jy
weggevat word uit jou land.
Hulle het nuttelose dinge gesê
wat jou eerder
op ’n verkeerde spoor gelei het.
15 Almal wat by die stad
verbyloop,
slaan hulle hande saam.
Hulle skud hulle kop
en fluit van verbasing
oor Jerusalem.
Hulle spot en sê:
“Is dit die stad wat
die mooiste plek op aarde
genoem is,
die stad wat vreugde
vir die hele wêreld bring?”
16 Al jou vyande spot met jou
en fluit deur hulle tande:
“Die dag het gekom
waarvoor ons gewag het
om hierdie stad te vernietig!”
17 Dit is die Here
wat dit met jou laat gebeur
wat Hy al lankal besluit het.
Hy het Jerusalem genadeloos
vernietig.
Hy het jou vyand laat lekkerkry
toe hulle jou verslaan het.
18 Mure van Jerusalem,
pleit by die Here!
Laat jou trane dag en nag vloei
soos ’n rivier.
Moenie vir ’n oomblik
ophou nie.
19 Staan op,
in die middel van die nag,
om jou hart soos water
voor die Here uit te stort.
Steek jou hande uit na Hom
om te pleit vir jou kinders
wat op straat
flou word van honger.
20 Kyk tog, Here,
wat U maak met ons.
Moet vroue dan die kinders eet
vir wie hulle so lief is?
Moet priesters en profete
dan sterf
in die tempel van die Here?
21 Jongmense en oumense
lê dood buite in die straat.
My jong meisies en jong mans
het U genadeloos
doodgemaak in u woede.
22 U het oraloor mense geroep
asof hulle na ’n feesdag toe kom.
Die dag toe die Here
sy woede losgelaat het,
was daar niemand
wat ontsnap
en bly leef het nie.
My kinders wat ek grootgemaak het
met sorg,
is deur die vyand doodgemaak.