JESAJA 9

1 Die mense

wat in die donkerte geleef het,

sal ’n groot lig sien.

Die lig sal skyn

op almal

in die land

waaroor die dood

’n skaduwee gegooi het.

2 U sal Israel weer grootmaak,

en sy mense sal bly wees

soos mense bly is

tydens die oestyd,

soos soldate

bly is oor die buit.

3 Want God sal die kettings

wat sy volk vasbind

en die sweep

waarmee hulle geslaan is,

stukkend breek.

Hy sal maak net soos op die dag

toe Hy Midian verslaan het.

4 In daardie dag van vrede

sal elke skoen

wat in die oorlog gebruik is

en elke uniform

wat met bloed bevlek is,

in die vuur verbrand word.

5 Want ’n Kind is vir ons gebore,

’n Seun is aan ons gegee.

Hy sal die heerser wees

met die koninklike titels:

Wonderbare Raadsman,

Magtige God,

Ewige Vader,

Vredevors.

6 Sy heerskappy en vrede

sal voortdurend uitbrei

en nooit ophou nie.

Vanaf die troon

waarop sy voorouer Dawid

gesit het,

sal Hy vir altyd regverdig

en reg regeer.

Die toewyding van die Here,

die Almagtige, sal dit waarborg.

Die Here se woede teen Israel

7 Die Here het teen Jakob gepraat. Hy het Israel aangespreek:

8 Al die mense, Israel en die inwoners van Samaria, gaan dit een van die dae agterkom. Hulle sê ewe trots en vol arrogansie:

9 “Ons land is nou ’n puinhoop, maar ons sal dit herbou sodat dit beter is as voorheen. Ons sal die gebreekte bakstene vervang met gekapte klip, die wildevyebome met seders.”

10 Die Here stuur Resin se vyande, die Assiriërs, teen hulle.

11 Saam met hulle kom ook die Arameërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste. Hulle sal hulle tande wys en Israel opeet. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

12 Selfs ná al hierdie straf sal die volk hulle steeds nie bekeer en na die Here, die Almagtige, terugdraai nie.

13 Daarom sal die Here vir Israel

in één dag vernietig.

Hy sal die kop en die stert,

palmtak en biesie afsny.

14 Die leiers van Israel is die kop,

en die profete wat lieg,

is die stert.

15 Want die leiers van die volk het hulle op die verkeerde pad, na verwoesting, gelei.

16 Daarom is die Here nie bly oor die jong manne nie, en het Hy geen genade selfs vir die weeskinders en weduwees nie. Want hulle is almal voor die voet goddeloos en boos en hulle lieg. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

17 Hulle boosheid is soos ’n veldbrand. Die vuur verbrand nie net die dorings en dissels nie, maar ook die woude. Die brand veroorsaak groot wolke rook.

18 Die land is swart gebrand deur die woede van die Here, die Almagtige. Die volk is die vuurmaakhout, en niemand gee om vir ander mense nie.

19 Hulle steel links en regs, maar bly honger. Op die ou end eet hulle selfs hulle eie kinders.

20 Manasse sal op Efraim teer, en Efraim op Manasse. En saam sal hulle Juda verteer. Maar selfs dan sal die Here se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × three =