JESAJA 6

Jesaja se reiniging en roeping

1 In die jaar wat koning Ussia dood is, het ek die Here gesien. Sy troon was hoog en verhewe, en die soom van sy kleed het die tempel gevul.

2 Rondom Hom was serafs, elkeen met ses vlerke. Met twee het hulle hulle gesig toegemaak, met twee hulle voete bedek en met twee het hulle gevlieg.

3 Hulle het mekaar toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid!”

4 Die fondamente het geskud van die geluid, en die tempel was vol rook.

5 Ek het hard geroep: “Ellende het my getref! Want ek is ’n sondige mens, tussen ander sondige mense. En tog het ek die Koning, die Here, die Almagtige, gesien!”

6 Toe het een van die serafs na die altaar toe gevlieg en ’n gloeiende kool met ’n tang opgetel.

7 Hy het my lippe daarmee aangeraak en gesê: “Kyk, hierdie kool het jou lippe aangeraak. Nou is jou skuld weg en jou sondes vergewe.”

8 Toe het ek die Here hoor vra:

“Wie kan Ek met ’n boodskap

na my volk toe stuur?

Wie sal vir Ons gaan?”

Ek het geantwoord:

“Here, ek sal gaan!

Stuur my!”

9 Hy het gesê: “Ja, gaan.

Sê vir hierdie mense só:

“‘Julle sal my woorde hoor,

maar dit nie verstaan nie.

Julle sal sien wat Ek doen,

maar nie die betekenis

daarvan snap nie.’

10 Verhard hierdie volk se harte.

Maak hulle ore toe

en hulle oë blind.

Andersins sien hulle dalk

en hoor hulle,

en verstaan hulle,

en draai dan na My toe

en word hulle gesond gemaak.”

11 Toe vra ek:

“Here, hoe lank moet ek dit doen?”

Hy het geantwoord:

“Totdat hulle stede

heeltemal verwoes is

en niemand meer

daarin bly nie.

Totdat hulle huise leeg staan

en die hele land

’n ruïne geword het.

12 Moenie ophou totdat die Here

elkeen na ver lande

weggejaag het

en die hele land Israel

woestynagtig geword het nie.

13 Al bly daar net ’n tiende deel oor,

sal die land weer verwoes word.

“Israel sal agterbly

soos die stomp

van ’n terpentynboom

of ’n eikeboom wat afgekap is.

Maar die stomp sal uitloop

en heilige saad word

wat weer groei.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five × five =