JESAJA 42

Die dienaar vir wie die Here

uitgekies het

1 “Kyk, hier is die dienaar

wat Ek ondersteun.

Hy is die een wat Ek gekies het

en wat my guns geniet.

Ek het my Gees op hom laat kom.

Hy sal regspreek

oor die nasies.

2 Hy sal nie roep

of hard skree nie.

Hy sal nie sy stem

in die openbaar laat hoor nie.

3 Hy sal ’n geknakte riet

nie verder afbreek nie.

Mense wat dof brand

soos ’n lamppit

sal hy nie uitdoof nie.

Hy sal in opregtheid

reg laat geskied.

4 Hy sal nie moeg

of moedeloos word nie,

totdat reg en geregtigheid

op aarde gevestig is.

Selfs die kuslande en eilande

wag vir sy opdragte.”

5 So sê God, die Here,

wat die hemel gemaak

en dit oopgespan het.

Hy het die aarde gemaak

en alles wat daarop is.

Hy gee asem vir almal op aarde,

lewe vir alles

wat daarop beweeg.

6 “Ek, die Here, het jou geroep

om my reg te demonstreer.

Ek sal jou hand vat

en jou beskerm.

Ek sluit deur jou ’n verbond

met die volk.

En jy sal ’n lig vir die nasies wees

om hulle na My terug te lei.

7 Jy sal die oë van blinde mense

oopmaak,

gevangenes

uit die tronk bevry,

mense wat in die gevangenis sit,

vrylaat.

8 “Ek is die Here,

dit is my Naam.

My eer deel Ek

met niemand anders nie.

Die lof wat My toekom,

deel Ek nie met afgode nie.

9 Alles wat Ek gesê het,

het net so gebeur.

En nou vertel Ek jou

van nuwe dinge wat gaan gebeur.

Voordat dit gebeur,

vertel Ek dit reeds aan julle.”

’n Loflied vir die Here

10 Sing vir die Here

’n nuwe lied.

Besing sy lof

tot aan die uithoeke

van die aarde!

Sing, almal wat vaar op die see,

en alles in die see,

al die eilande

en dié wat daarop woon.

11 Laat die woestyn en sy dorpe

saamsing.

Laat die dorpies van Kedar

bly wees.

Laat die mense van Sela

sing van vreugde.

Laat hulle hard roep

vanaf die bergpieke.

12 Laat hulle

eer aan die Here bring.

Laat die eilande

sy lof verkondig.

13 Die Here sal opruk

soos ’n baie sterk man.

Hy sal kom soos ’n soldaat

wat woedend is.

Hy gaan sy oorlogskreet aanhef.

Hy sal triomfeer oor sy vyande.

14 “Ek het baie lank stilgebly.

Ek was stil

en Ek het My ingehou.

Maar nou skree Ek in my woede

soos ’n vrou wat geboorte gee.

Ek sal hyg en snak na asem.

15 Ek maak die berge en heuwels

gelyk met die grond

en laat al die plante

daarop uitdroog.

Ek maak van riviere eilande

en laat die poele opdroog.

16 Ek lei blindes op ’n nuwe pad,

op paaie

wat vir hulle onbekend is.

Ek maak die donkerte voor hulle

helder lig,

en die ongelyk plekke

maak Ek gelyk.

Ek gaan dit alles doen,

en hulle nie alleen los nie!

17 Maar hulle

wat op afgode vertrou,

wat vir afgode sê:

‘Julle is ons gode,’

sal neerval

en skaam kry.”

Israel weier om te hoor en te

sien

18 “Luister, julle wat doof is!

Kyk, julle blindes, en sien!

19 Wie is so blind

soos die Here se dienaar?

Wie is so doof

soos die boodskappers

wat Ek stuur?

Wie is so blind

soos my uitverkore volk,

blind soos die dienaar

van die Here?

20 Julle sien en julle weet wat reg is,

maar weier om daarop

te reageer.

Julle ore is oop,

maar julle hoor niks.”

21 Die Here se vreugde lê daarin

om sy gebooie groot

en heerlik te maak.

22 Maar kyk hoe lyk sy volk!

Hulle is geplunder en gebuit.

Hulle is in vanggate gehou,

of in gevangenisse opgesluit.

Hulle het ander se buit geword

met niemand om te red nie.

Hulle is geplunder

sonder iemand wat sê:

“Gee hulle terug!”

23 Is daar niemand onder julle

wat aandag gee

aan wat gebeur het nie,

sodat julle kan luister

en verwoesting vermy?

24 Wie het Jakob oorgelewer

om buit te word?

Wie het Israel oorgegee

aan die verwoesters?

Is dit nie die Here

teen wie ons gesondig het nie?

Hulle wou nie

doen soos Hy vereis het nie.

Hulle wou nie

na sy woord luister nie.

25 Daarom het Hy

sy gloeiende woede

teen hulle laat ontvlam

deur die geweld van oorlog.

Hulle het in vlamme opgegaan,

maar geweier om te verstaan.

Dit het hulle verteer,

maar hulle het nog

nie hulle les geleer nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

17 − twelve =