JESAJA 41

Die Helper van Israel

1 “Bly stil en luister na My,

eilande en kusgebiede.

Laat die nasies hulle sterkste

argumente

kom stel.

Laat die hof die saak uitmaak.

2 “Wie het iemand uit die ooste

wakker gemaak?

Hy behaal heelpad

oorwinning.

Die Here gee nasies aan hom oor

en onderwerp konings aan hom.

Hy maak hulle tot stof

met sy swaard.

Sy boog maak van hulle kaf

wat die wind wegwaai.

3 Ongehinderd agtervolg Hy hulle,

al was hy nog nooit

voorheen op dié pad nie.

4 Wie het sulke magtige dinge gedoen

en die verloop van dinge

van die begin af bepaal?

Dit is Ek, die Here, die Eerste.

Wanneer die laaste dinge

gebeur,

sal Ek, die Here, nog daar wees.”

5 Die eilande kyk toe in vrees,

die aarde se eindes bewe.

Hulle kom nader vir die geveg.

6 Hulle praat mekaar moed in

en sê: “Wees sterk!”

7 Die werksmense maak gou

nuwe gode.

Die ambagsman jaag

die goudsmid aan,

en die een wat die metaal uitklop,

help hom

wat by die aambeeld werk.

“Die smeewerk is goed!”

sê hulle.

Dan slaan hulle die beeld

met spykers vas

sodat dit nie omval nie!

8 “Maar jy, Israel,

my dienaar,

jy is Jakob, wat Ek gekies het,

afstammeling

van Abraham, my vriend.

9 Jou het Ek teruggeroep

vanaf die uithoeke van die aarde.

Ek het gesê: ‘Jy is my dienaar,’

want Ek het jou gekies.

Ek het jou nooit verwerp nie!

10 Moenie bang wees nie,

want Ek is by jou.

Moenie ontsteld word nie,

want Ek is jou God.

Ek maak jou sterk

en wil jou help.

Ek laat jou oorwin

met my regterhand wat mense red.

11 “Almal wat vir jou kwaad is,

sal in die skande kom

en verleë wees.

Almal wat jou weerstaan,

sal vergaan.

12 Jy sal jou vyande soek,

maar hulle nêrens kry nie.

Almal wat teen jou oorlog maak,

sal soos niks wees!

13 Ek gryp jou regterhand vas.

Ek is die Here jou God.

En Ek sê vir jou:

‘Moenie bang wees nie.

Ek is daar om jou te help!’

14 Moenie bang wees nie,

nietige wurmpie, Jakob!

Al is jy min, Israel,

sal Ek jou help, sê die Here.

Ek is die Een wat jou red,

die Heilige van Israel.

15 Kyk, Ek maak jou

soos ’n nuwe dorsslee

met baie skerp tande.

Jy sal die berge fynmaal,

die heuwels tot kaf maak.

16 Jy sal hulle uitwan,

en ’n wind sal hulle wegwaai.

’n Stormwind sal hulle verstrooi.

Maar jy sal bly wees in die Here

en roem in die Heilige van Israel.

17 “Die armes en behoeftiges

soek na water, maar kry niks.

Hulle tonge bars van dors.

Dan sal Ek, die Here,

hulle verhoor.

Ek, die God van Israel,

sal hulle nie verlaat nie.

18 Ek sal riviere laat ontspring

op die hoë bergpieke.

Ek sal vir hulle fonteine gee

in die valleie.

Ek sal die woestyn

in ’n poel water verander.

Ek verander die droë, gebarste grond

in fonteine.

19 Ek sal bome plant in die woestyn –

seders, doringbome, mirte

en olyfbome.

Ek laat in die droë wêreld

sipresse groei,

ook platane en denne.

20 Almal sal hierdie wonderwerk

sien gebeur.

Hulle sal dan verstaan

dat die Here dit gedoen het.

Die Heilige van Israel

het dit geskep.

21 “Stel nou julle saak,”

sê die Here.

“Kom met julle beste argumente,”

sê die Koning van Jakob.

22 “Bring julle afgode

om vir ons te vertel wat gaan

gebeur.

Sê vir ons wat voorheen gebeur het

sodat ons kan oordeel

of hulle die waarheid praat.

Of vertel vir ons

wat gaan gebeur.

23 Vertel vir ons

wat die toekoms inhou

sodat ons kan bepaal

of julle gode is.

Doen enigiets, goed of sleg.

Dan sal ons verwonderd staan

en bang vir julle word.

24 Maar kyk, julle is minder as niks

en wat julle kan doen,

is waardeloos.

Mense wat julle as hulle gode kies,

is net so veragtelik soos julle.

25 “Ek het ’n leier laat opstaan

wat uit die noorde kom.

Ek roep hom uit die ooste

op sy naam.

Hy trap op leiers

asof hulle modder is,

soos ’n pottebakker

wat klei trap.

26 “Wie van julle

het dit van die begin af gesê

sodat ons dit kon weet,

vantevore al sodat ons sou kon sê:

‘Hy was reg’?

Niemand het dit geweet nie.

Niemand het dit voorspel nie.

Niemand het eers gehoor

dat julle ’n woord daaroor sê nie.

27 Ek was die eerste

wat vir die tempelberg gesê het:

‘Kyk, hier kom hulp vir jou!’

Ek het ’n boodskapper

met goeie nuus

na Jerusalem toe gestuur.

28 Nie een van die afgode

het jou dit kon vertel nie.

Toe Ek hulle vra,

kon niemand ’n antwoord gee nie.

29 Hulle is almal vals!

Wat hulle doen, beteken niks.

Hulle is so leeg soos die wind.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

11 + 9 =