Troos vir God se volk
1 “Troos, troos my volk,”
sê julle God.
2 “Praat sag met Jerusalem.
Sê vir hom
sy hartseerdae is verby.
Sy sondes is vergewe.
Die Here het hom klaar gestraf
vir al sy sondes.”
3 Luister! Ek hoor die stem
van iemand wat roep:
“Bou ’n grootpad vir die Here
deur die woestyn.
Maak ’n reguit pad vir ons God
deur die wildernis.
4 Vul die valleie op!
Maak elke berg en heuwel gelyk,
elke ruwe plek ’n gelykte,
elke koppie ’n vlakte.
5 Dan sal die heerlikheid
van die Here
bekend word
en alle mense sal dit sien.
Die Here self het so gesê.”
6 ’n Stem sê:
“Roep!”
Ek het gevra:
“Wat moet ek roep?”
“Roep uit:
Alle mense is soos gras.
Hulle bekoorlikheid
is soos blomme van die veld.
7 Gras verdor
en blomme verwelk
as die Here sy asem
daaroor laat waai.
So is dit ook met mense.
8 Gras verdor,
blomme verwelk,
maar die woord van God
bly vir altyd.”
9 Boodskapper van goeie nuus,
roep vir die tempelberg
van die bergpieke af!
Boodskapper van goeie tyding,
roep hard vir Jerusalem!
Moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Hier is jou God!”
10 Die oppermagtige Here
kom met heerlike krag
en regeer met mag.
Kyk, Hy bring
sy beloning saam.
Dit is by Hom.
11 Hy versorg sy kudde
soos ’n herder.
Die lammers maak Hy bymekaar
in sy arms,
en dra hulle naby sy hart.
Skaapooie met lammers
versorg Hy.
Die Here het geen gelyke nie
12 Wie anders het die oseane
in sy hand gehou?
Wie het die hemel afgemeet
met die breedte van sy hand?
Wie het die grond van die aarde
met ’n maatemmer gemeet,
of het die berge en die heuwels
met ’n skaal geweeg?
13 Wie kan
die Gees van die Here advies gee?
Wie weet genoeg
om Hom raad te gee
of Hom te leer?
14 Het die Here al ooit raad
van ander nodig gehad?
Het Hy nodig dat iemand
Hom vertel wat die goeie is
of wat die beste is?
15 Al die nasies van die wêreld
is vir Hom
soos ’n druppel in ’n emmer,
soos stof op ’n skaal.
Hy tel die eilande op
asof hulle geen gewig het nie.
16 Die Libanon se hout
is nie genoeg vir offers,
en sy diere nie voldoende
vir brandoffers nie.
17 Die nasies van die wêreld
is vir Hom soos niks.
In sy oë is hulle waardeloos,
asof hulle nie bestaan nie.
18 Met wie kan julle
God dan vergelyk?
Met watter beeld sal julle
Hom kan vergelyk?
19 Kan jy Hom vergelyk met
die afgodsbeeld?
Dis deur ’n vakman gemaak,
’n goudsmid
het dit met goud oorgetrek
en met silwerkettinkies versier.
20 Wie te arm is vir so ’n offer
aan sy god,
kies hout wat nie vrot nie
en soek vir hom ’n bedrewe
ambagsman om vir hom ’n beeld te
maak wat nie omval nie.
21 Weet julle dan nie?
Verstaan julle nie?
Is dit dan nie in die begin
aan julle vertel nie?
Weet julle nie Wie
die aarde gegrondves het nie?
22 God sit op sy troon
bokant die hemelkoepel.
Die mense op aarde
lyk vir Hom soos sprinkane.
Hy sprei die hemel uit
soos ’n gordyn,
Hy sprei dit oop soos ’n tent
om in te woon.
23 Hy oordeel oor vername mense
en verlaag regeerders
van die wêreld
asof hulle nie bestaan nie.
24 Hulle is skaars geplant,
skaars gesaai,
het skaars wortelgeskiet,
of Hy blaas oor hulle
en hulle verwelk
en ’n stormwind waai hulle weg
net soos kaf.
25 “Met wie sal julle My
vergelyk?
Wie is my gelyke?”
vra die Heilige Een.
26 Kyk op na die hemel.
Wie het die sterre gemaak?
Hy laat hulle
soos ’n leërmag uitmarsjeer,
die een ster na die ander,
en roep elkeen by sy naam.
Met sy groot krag en mag
sorg Hy dat nie een wegraak
of verdwaal nie.
27 Israel, hoe kan jy dan sê:
“Die Here sien nie
my moeilikheid raak nie”?
Hoe kan jy beweer:
“God weier
om na my saak te luister”?
28 Het jy nog nooit gehoor
of verstaan nie?
Weet jy nie dat die Here
van altyd af God is nie?
Hy is die Skepper
van die hele aarde.
Hy word nie moeg of gedaan nie
en niemand kan die dieptes
van sy insig meet nie.
29 Hy gee krag
aan dié wat moeg is.
Hy maak die kragteloses sterk.
30 Selfs jongmense raak uitgeput
en afgemat.
Baie jongmense struikel
en val.
31 Maar dié wat hulle hoop
op die Here stel,
sal hulle krag terugkry.
Hulle vlieg hoog,
soos arende.
Hulle sal hardloop
en nie moeg word nie.
Hulle sal loop
en nooit vermoeid word nie.