JESAJA 3

Oordeel teen Juda

1 Die Here,

die Here, die Almagtige,

sal die kos- en watervoorrade

van Jerusalem en Juda afsny.

2 Hy gaan elkeen van die leiers

van die volk vernietig:

helde, soldate, regters, profete,

waarsêers, ouderlinge,

3 leëroffisiere, eerbare burgers,

adviseurs, kundige vakmanne

en deskundige besweerders.

4 Dan sal Hy kinders aanstel

wat oor hulle sal regeer,

en wetteloosheid sal uitbreek.

5 Mense sal mekaar inloop –

man teen man

en vriend teen vriend.

Jongmense sal teen gesag

in opstand kom,

en veragtes sal

op eerbare mense neersien.

6 In daardie tyd sal ’n man

vir sy broer sê:

“Omdat jy behoorlike klere het,

moet jy ons leier kom wees!

Kom regeer oor die ruïnes.”

7 “Nee!” sal hy antwoord.

“Ek kan nie help nie.

Ek het nie ekstra kos

en klere in my huis nie.

Moet my nie vra

om betrokke te raak nie!”

8 Van Juda en Jerusalem

sal net ruïnes oorbly

omdat hulle met woord en daad

die Here teenstaan

en hulle nie steur

aan sy heerlike teenwoordigheid nie.

9 Hulle gesigte gee hulle al weg

dat hulle skuldig is.

Hulle sondig openlik

soos die mense van Sodom.

Hulle steek dit nie eens weg nie.

Hulle het hulle eie ondergang

bewerkstellig!

10 Sê vir die regverdige:

“Dit sal goed gaan met jou.

Julle sal kry wat julle verdien!”

11 Maar verwoesting wag vir die bose.

Hulle gaan ook kry

wat húlle verdien.

12 Kinders verdruk my volk

en vroue heers oor hulle.

My volk, julle leiers vat julle

op die verkeerde pad,

na julle vernietiging toe.

13 Die Here maak Hom klaar

om die volk te oordeel.

Hy staan reg

om téén sy mense op te tree!

14 Die leiers en regeerders

gaan die eerste wees

wat die Here se oordeel beleef.

“Julle het die wingerd geruïneer.

Israel is my wingerd.

Julle het die armes besteel,

hulle eiendom vir julle gevat.

15 Hoe kon julle dit waag

om my volk en die armes

so in die stof in te trap?”

vra die oppermagtige Here,

die Almagtige.

Waarskuwing vir Jerusalem se

vroue

16 Verder sal die Here

’n oordeel uitspreek

oor die vroue van Jerusalem,

wat met hulle neuse

in die lug rondloop,

met ringe wat rinkel

aan hulle enkels.

Hulle oë soek tussen die skare,

hulle flankeer met elke man.

17 Die Here sal hulle koppe ontsier.

Ja, die Here sal hulle bles maak.

18 Daardie dag stroop die Here

hulle swierigheid,

die bande om hulle koppe,

die hangertjies

in die vorm van ’n halfmaan,

19 oorringe, armbande en sluiers,

20 hooftooisels, voetkettinkies

en versierde gordels.

Hulle gelukbringertjies

sal weg wees,

21 hulle ringe en neusringe,

22 partytjieklere,

mantels, tjalies

en handsakkies,

23 spieëltjies,

fyn linneklere,

kopdoekies en tjalies.

24 In plaas daarvan

dat hulle na reukwater ruik,

sal hulle stink.

Hulle sal toue

vir gordels dra,

en hulle mooi gekamde hare

sal uitval en bles word.

In die plek van hulle mooi klere

sal hulle ’n roukleed dra.

In die plek

van hulle skoonheid

sal hulle die brandmerk dra

van ’n slaaf.

25 Die manne van die stad

sal in die oorlog

doodgemaak word,

en die soldate in die geveg.

26 Die ingange van Jerusalem

sal rou en huil.

Die mense van

die stad sal verlate

op die grond sit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

20 − fifteen =