JESAJA 1

1 Hier is die visioene wat Jesaja seun van Amos oor Juda en Jerusalem gesien het. Dit was in die tyd dat Ussia, Jotam, Agas en Hiskia konings van Juda was.

’n Boodskap vir die opstandige

Juda

2 Luister, hemele!

Luister, aarde!

Dit is wat die Here sê:

“Die kinders

wat Ek grootgemaak

en versorg het,

het teen My gerebelleer.

3 Selfs die bees ken sy eienaar

en die donkie

die krip van sy baas,

maar my volk Israel weet nie,

my volk verstaan niks.”

4 Voorwaar, hulle is ’n sondige klomp,

met skuld belaai.

Hulle is mense

wat totaal en al korrup is.

Hulle het van die Here af

weggedraai.

Hulle het Israel se Heilige Een

geminag

en hulle rug op Hom gedraai.

5 Hoekom wil julle

nog verder gestraf word?

Hoekom hou julle aan

om in opstand te kom?

Julle koppe is stukkend geslaan

en julle harte is siek.

6 Julle is stukkend,

van kop tot tone –

vol kneusplekke,

hale en ontsteekte wonde!

Julle beserings is nie behandel

of verbind nie.

Daaraan is nie salf gesmeer nie.

7 Julle land lê in puin

en julle stede is afgebrand.

Terwyl julle staan en kyk,

plunder vreemdelinge

julle velde

en vernietig alles wat voorkom.

Hulle los alles verlate agter.

8 Sion in Jerusalem staan verlate

soos die opsigter se skerm

in ’n wingerd

of landery nadat die oes af is.

Die stad is hulpeloos

soos ’n stad onder beleg.

9 As die Here, die Almagtige,

nie ’n handjievol van ons

gespaar het nie,

sou ons uitgewis gewees het

net soos Sodom en Gomorra.

10 Luister na die woord van die Here,

julle regeerders van Sodom!

Luister na die bepalings

van ons God,

julle mense van Gomorra!

11 “Ek is siek van julle baie offers,”

sê die Here.

“Moenie nog meer brandoffers

vir My bring nie!

Die vet van julle ramme

of ander diere

wil Ek nie hê nie.

Ek kry geen genot in die bloed

van julle bulle

én ramme én bokke nie.

12 Wie het julle beveel

om voor My te verskyn,

om my voorhowe te vertrap?

13 Hou op om huigelagtige offers

te bring.

Julle wierook

is vir My afstootlik.

Julle feesvierings op Nuwemaanfees

en Sabbatte,

julle spesiale vasdae,

ook julle vroomste byeenkomste

kan Ek nie verdra nie,

want dis vol boosheid!

14 Ek haat

julle Nuwemaanfeeste

en ander feeste.

Dit het ’n las vir my geword

en Ek kan dit nie meer verdra nie!

15 Ek sal nie meer kyk

wanneer julle julle hande in gebed

na My toe uitsteek nie.

Selfs al bid julle hoe baie,

sal Ek nie luister nie.

Want julle hande is vol van die bloed

van onskuldige slagoffers.

16 Was julleself en word skoon!

Moenie dat Ek verder sien

hoe boos julle optree nie.

Sien af van julle weë.

17 Leer eers om goed te doen.

Sorg dat mense

regverdig behandel word.

Help mense wat verdruk word.

Verdedig die weeskind.

Pleit vir die regte

van die weduwee.

18 “Kom nou,

laat ons die saak uitpraat,”

sê die Here.

“Maak nie saak

hoe diep die vlek

van julle sonde is nie,

Ek kan dit verwyder.

Ek kan julle so skoon maak

soos sneeu wat pas geval het.

Selfs al is die vlek so rooi

soos purper,

Ek kan julle wit maak soos wol.

19 As julle gewillig is en My maar net

gehoorsaam,

sal julle die goeie gawes

van die aarde eet.

20 Maar as julle weier

en rebelleer,

sal julle deur julle vyande

vernietig word.

Ek, die Here, sê so!”

Ontroue Jerusalem

21 Jerusalem, voorheen so getrou,

het ’n prostituut geword!

Die stad,

eens op ’n tyd die tuiste

van reg en geregtigheid,

is nou vol moordenaars!

22 Vroeër was jy soos silwer,

maar nou het jy

soos waardelose lood geword.

Jy was so suiwer,

maar nou is jy soos wyn

gemeng met water.

23 Jou leiers is opstandelinge

en vriende van diewe.

Hulle vat almal omkoopgeld

en beskerm nie

die regte van weduwees en wese nie.

24 Daarom sê die Een wat regeer,

die Here, die Almagtige.

die Sterk Een van Israel:

“Van my vyande

gaan Ek My bevry.

My woede gaan Ek uitstort,

op julle, my vyande!

25 Ek draai teen julle.

Ek sal julle smelt

en die lood afskep.

Al julle onsuiwerhede

sal Ek verwyder.

26 Daarna gee Ek aan julle

goeie regters

en wyse adviseurs

soos julle vroeër gehad het.

Dan sal Jerusalem weer

genoem word

die Stad van Geregtigheid,

die Getroue Stad.”

27 Jerusalem sal gered word deur reg

en almal in die stad wat berou het,

deur geregtigheid.

28 Maar opstandelinge

en sondaars

sal ten volle vernietig word,

want hulle weier

om terug te kom na die Here.

29 Julle sal skaam wees

as julle terugdink aan die tyd

toe julle offers aan afgode

in julle tuine gebring het.

Julle sal bloos as julle dink

aan die sondes

wat julle gedoen het

in julle gewyde tuine.

30 Julle sal verlep soos ’n eikeboom

of verdor soos ’n tuin sonder water.

31 Die sterkste onder julle

sal wees

soos brandende strooi.

Julle bose dade is die vonk

wat strooi laat brand,

’n vuur wat niemand kan blus nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × 4 =