1 Die Here sê: “In dié tyd sal die vyand die grafte oopmaak. Hulle sal die geraamtes van die konings van Juda en die leiers uit die grafte haal, asook die geraamtes van die priesters, die profete en die gewone mense van Jerusalem.
2 Hulle sal hierdie bene uitsprei onder die son, die maan en die sterre. Hulle het mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad, gedien en aanbid! Hulle sal die bene nie weer bymekaarmaak en begrawe nie. Dit sal soos mis bo-op die grond bly lê.
3 Almal wat dalk nog oorleef, sal verkies om eerder dood te wees as om daar te bly lewe waarheen Ek hulle wegjaag.” Dit is wat die Here, die Almagtige, sê!
Valse wysheid
4 “Jeremia, gaan sê vir hulle
wat Ek, die Here, sê:
As mense val,
staan hulle dan nie weer op nie?
Of as hulle agterkom
hulle is op ’n verkeerde pad,
draai hulle nie terug nie?
5 Waarom hou hierdie volk aan
om af te dwaal?
Hoekom hou Jerusalem aan
om My te bedrieg?
Hoekom weier hulle
om terug te kom?
6 Ek het fyn geluister na hulle
gesprekke.
Hulle praat nie
die waarheid nie.
Nie eers een van hulle
is spyt oor die dinge
wat hulle doen nie.
Niemand van hulle sê:
‘Wat het ek aangevang!’ nie.
Nee, hulle storm in sonde voort,
soos ’n perd injaag
in ’n geveg!
7 Die trekooievaar in die lug
weet wanneer om te kom,
die tortelduif en die swaeltjie
weet wanneer dit tyd is
om te vlieg,
maar my volk
ken nie die vereistes
van die Here nie.
8 Hoe kan julle dan sê:
‘Ons het wysheid,
want ons het die Here se gebooie
by ons’?
Maar hulle
wat die voorskrifte neerskryf,
pleeg bedrog
en vervals die gebooie.
9 Julle wyse mense
sal in die skande kom,
want hulle is verward
en vasgevang
in hulle eie manier van dink.
Hulle het die Here se woord verwerp.
Hoe wys is hulle werklik?
10 Ek sal hulle vroue en grond
vir invallers gee,
want almal van my volk,
klein en groot,
bedrieg om te kry
wat nie aan hulle behoort nie.
Selfs die priesters en die profete
doen sulke oneerlike dinge.
11 Hulle pogings om my volk
se wonde te genees,
is oppervlakkig.
Hulle sê: ‘Vrede, vrede,’
terwyl daar geen vrede is nie.
12 Is hulle glad nie skaam
oor al die afstootlike dinge
wat hulle doen nie?
Nee, hulle bloos nie eers nie!
Daarom sal hulle
tussen die gesneuweldes lê.
Wanneer Ek hulle straf,
sal Ek hulle verneder,”
sê die Here.
13 “Ek sal hulle oeste wegneem,”
sê die Here.
“Daar sal geen druiwe
aan die wingerdstokke wees nie.
Daar sal geen vye
aan die bome wees nie
en die blare sal verdor.
Wat Ek vir hulle gegee het,
sal Ek weer terugneem,”
sê die Here.
14 Dan sal die volk sê: “Hoekom sal ons hier bly sit? Kom ons gaan na die versterkte dorpe en sterf daar. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet vergaan. Hy het vir ons vergiftigde water gegee om te drink, want ons het teen die Here gesondig.
15 “Ons wag op vrede, maar daar het niks goeds gebeur nie. Ons het uitgesien na ’n tydperk van genesing, maar iets skrikwekkends het gebeur.
16 Ons kon alreeds uit Dan die gesnuif van die vyand se perde hoor! Die hele land het gebewe van die perde se gerunnik. Die vyand se plan was om ons land en alles daarin te kom verwoes, ook die stad en die mense wat daarin bly.”
17 Die Here sê: “Ek stuur die vyand soos giftige slange tussen julle in, adders wat julle nie kan besweer nie. Die slange sal julle pik.”
Jeremia huil oor Juda se sonde
18 My hartseer
kan nie genees word nie.
My hart is gebreek.
19 Hoor die gehuil van my mense
oor die hele land:
“Is die Here nie meer
in Jerusalem nie?
Is die Koning ook nie meer
in die stad nie?”
Die Here vra: “Hoekom
het julle My geterg
met julle afgodsbeelde
en vreemde, nuttelose afgode?”
20 “Die oes is af
en die somer is verby:
tog is ons nog nie gered nie,”
kla die mense.
21 Ek treur oor die pyn
van my mense.
Ek is stomverslae van verdriet.
22 Is daar nie medisyne in Gilead nie?
Is daar nie ’n dokter wat
kan help nie?
Hoekom is daar nie genesing
vir my volk nie?