Boodskap oor Moab
1 Hierdie boodskap gaan oor Moab. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê:
“Ellende wag vir Nebo,
die stad sal verwoes word.
Die stad Kirjatajim sal verneder
en ingeneem word.
Hulle sal die vesting verneder
en afbreek.
2 Niemand sal meer
oor Moab spog nie.
In Gesbon beplan hulle
’n komplot teen Moab:
‘Kom ons beëindig
hulle voortbestaan as ’n nasie!’
Hulle sal die stad Madmen
stilmaak.
Geweld sal ook hierdie stad tref!
3 Uit Goronajim klink ’n kreet op:
‘Verwoesting!
Groot vernietiging!’
4 Moab se mag is gebreek!
Hoor hoe huil die kinders.
5 Hulle vlugtelinge gaan op na Lugit
terwyl hulle bitterlik huil;
op pad af na Goronajim
word smartkrete gehoor
oor al die verwoesting.
6 Vlug vir julle lewens!
Oorleef soos ’n wildedonkie
in die woestyn!
7 Jy stel jou vertroue
op jou prestasies
en jou rykdom.
Maar hulle sal jou gevange neem.
Jou god Kemos,
sy priesters en amptenare
sal almal saam
in ballingskap gaan.
8 Jou vyand sal al jou dorpe
verwoes.
Geen stad sal gespaar bly nie.
Hulle sal die valleie beskadig
en die vlaktes verwoes.
Ek, die Here, sê dit sal gebeur!
9 As Moab net vlerke gehad het
sodat sy kon wegvlieg!
Moab se dorpe
sal almal verwoes word,
sodat niemand meer daarin woon nie.
10 “’n Vloek rus op elkeen
wat weier
om die werk
van die Here te doen.
’n Vloek rus ook op elkeen
wat nie dié doodmaak
wat die Here
hulle beveel het
om dood te maak nie!
11 “Vanaf die vroegste tye
het Moab rustig geleef.
Hulle is nog nooit
deur ’n ander volk
in ballingskap weggevoer nie.
Moab is soos ou wyn
wat kon verouder,
wat nie van houer na houer
oorgegooi is nie.
Die smaak het nie verlore
gegaan nie.”
12 Maar die Here sê:
“Die tyd kom
dat Ek mense sal stuur
wat die kruike leegmaak.
As hulle dit leeggemaak het,
sal hulle die wynkruike
stukkend breek!
13 Dan sal Moab skaam wees
oor Kemos,
net soos Israel ook destyds
skaam was
oor die goue kalf by Bet-El
op wie hulle vertrou het.
14 “Hoe kan julle nog sê:
‘Ons is helde,
baasvegters in die oorlog?’”
15 Die Here, die Almagtige,
die Koning, sê:
“Die vernietiger
sal Moab
en sy dorpe verwoes.
Van hulle beste jongmense
sal in gevegte sterf.
16 ’n Groot ramp sal Moab
binnekort tref.
Die land se ondergang
kom vinnig nader.
17 Almal in Moab se omgewing,
begin huil
oor hierdie land.
Julle wat Moab se naam ken, sê:
‘Die septer van mag
en die staf van trots
is nou gebreek!’
18 “Julle wat in Dibon bly,
klim af van julle troontjies
en kom sit in die stof.
Die vyand wat Moab vernietig,
kom ook teen Dibon veg.
Hulle het julle vestings
klaar verwoes.
19 Inwoners van Aroër,
gaan staan langs die pad
en kyk wat gebeur.
Vra elke man en vrou
wat vlug,
wat probeer ontkom;
vra hulle:
‘Wat het gebeur?’
20 Moab is verneder,
hulle is gebroke.
Huil en kla!
Vertel dit by die Arnonrivier
dat hulle Moab verwoes het!
21 Die straf oor die dorpe op die
hoogland het aangebreek,
oor Golon, Jahas, Mefaät,
22 Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,
23 Kirjatajim, Bet-Gamul,
24 Bet-Meon, Kerijot en Bosra.
Hulle sal al Moab se dorpe straf,
dié wat naby en dié wat ver is.
25 Moab se mag is vernietig.
Sy mag is gebreek,” sê die Here.
26 “Maak Moab dronk,
want hulle is arrogant
teenoor My, die Here.
Laat Moab in hulle braaksel rol
sodat ander hulle sal spot.
27 Moab, het jy nie met Israel
die spot gedryf nie?
Het jy dan nie Israel verag
soos iemand
wat tussen diewe
betrap is nie?
28 Burgers van Moab,
vlug uit julle dorpe!
Gaan woon in rotsskeure
soos duiwe
wat hulle neste maak
in die grotte.
29 “Ons het gehoor
van Moab se trots en gespog.
Hulle was hoogmoedig, arrogant,
vermetel en hooghartig.
30 Ek weet van Moab
se verwaandheid,” sê die Here.
“Maar al hierdie grootpratery
loop op niks uit nie,
dit is vals.
31 Daarom huil Ek oor Moab.
Ek treur oor die mense
van Kir-Geres.
32 Ek treur meer oor jou
as oor Jaser,
wingerd van Sibma.
Jou wingerdranke het vroeër
tot by die Dooie See gestrek,
tot by Jaser.
Maar nou het die onderdrukkers
julle kaalgestroop.
Hulle het op julle somervrugte
en druiwe toegesak.
33 Blydskap en vreugde
het verdwyn
uit die boorde
en die landerye van Moab.
Ek het gesorg dat die wynpers
nie meer wyn voorsien nie.
Mense gesels ook nie meer
opgewek
terwyl hulle druiwe pars nie.
Daar is mense wat uitroep,
maar nie van blydskap nie.
34 Om die waarheid te sê,
die mense gil en skreeu van angs
omdat hulle bang is.
’n Mens kan die krete hoor
van Gesbon
tot aan die ander kant
by Elale en Jahas,
van Soar af
tot by Gonorajim
en Eglat-Selisija.
Selfs die waters van Nimrim
het nou opgedroog.”
35 Die Here sê: “Ek sal
’n einde maak aan Moab,
want hulle bring offers vir afgode
en brand wierook vir vals gode.
36 My hart kla van smart
soos ’n fluit vir Moab
en ook vir die mense van Kir-Geres.
Want al hulle rykdom het verdwyn.
37 Hulle skeer almal hulle koppe
en baarde omdat hulle rou.
Hulle maak snymerke
aan hulle hande
en dra klere van sak.
38 Oral in Moab is mense in rou.
Hulle doen dit op die dakke
van hulle huise
en op die pleine.
Hulle doen dit, sê die Here,
omdat Ek Moab
gebreek het soos ’n kleipot
wat niemand meer
gebruik nie.
39 Ag, hoe stukkend is hulle nie!
Hoor hoe huil hulle!
Moab is soos mense
wat die rug wegdraai
van ander
omdat hulle skaam is.
Moab se bure
dryf die spot met hulle.
Hulle skrik as hulle
al die verwoesting sien.”
40 Die Here sê:
“Kyk, ’n arend duik neer
en sprei sy vlerke oor Moab.
41 Hy sal die dorpe van Moab
inneem
en die vestings oorneem.
Daardie dag sal
Moab se krygsmanne so bang wees
soos ’n vrou
wat geboorte gee.
42 Moab sal as ’n volk
vernietig word
omdat hulle die Here
uitgetart het.”
43 Die Here sê:
“Moab, verskrikking, vanggate
en lokvalle wag op julle.
44 Mense wat in angs probeer
wegvlug,
sal in ’n vanggat val.
En dié wat uit die vanggat
ontsnap,
sal in ’n valstrik gevang word.
Ek sal sorg dat julle nie ontsnap nie,
want die tyd vir julle straf
het aangebreek,”
sê die Here.
45 “Die mense vlug so ver as Gesbon,
maar kom nie verder nie.
Want ’n vuur kom uit Gesbon,
die tuiste van koning Sihon.
Dit sal die hele land verteer,
ook al die opstandige mense.
46 Wee jou, Moab!
Die volk van Kemos is vernietig!
Al julle kinders
is gevang
en in ballingskap
weggevoer.
47 Maar eendag sal Ek weer
Moab se lot verander.
Ek, die Here, sê dit sal so wees!”
Hier eindig die oordeel oor Moab.