JEREMIA 4

1 “Israel, keer terug na My toe,”

sê die Here.

“As julle ontslae raak

van die afskuwelike afgode,

sal julle nie meer so rigtingloos

wees nie.

2 As julle ’n eed sweer

en my Naam gebruik,

moet julle die waarheid praat.

Begin reg lewe,

behandel mense regverdig

en doen wat reg is.

As julle dit doen,

sal julle

die nasies van die wêreld seën.

Hulle sal My kom vereer.”

Oordeel oor Juda

3 Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel sê:

“Ploeg die harde grond

van julle harte.

Moenie goeie saad

tussen dorings saai nie.

4 Maak julle harte en gedagtes

skoon voor die Here,

inwoners van Juda

en Jerusalem.

Anders sal my woede

oor julle uitbreek

oor julle sonde,

soos ’n vuur

wat niemand kan blus nie.”

’n Ramp kom uit die noorde

5 “Verkondig dit in Juda,

vertel dit in Jerusalem en sê:

‘Maak alarm

sodat elkeen dit kan hoor!’

Skreeu hard en sê:

‘Laat almal byeenkom.

Laat ons skuil

in die versterkte dorpe.’

6 Stuur ’n sein na Jerusalem

en waarsku hulle:

‘Moenie wag nie,

vlug vir julle lewens!’

Ek bring ’n groot ramp oor julle

uit die noorde.”

7 ’n Leeu het opgestaan

uit sy lêplek.

Die verwoester is op pad.

Julle dorpe sal verwoes lê,

sonder enige inwoners.

8 Trek julle rouklere aan

en weeklaag,

want die woede van die Here

is teen ons gerig.

9 Die Here sê:

“In dié tyd sal die moed

van die koning

en sy amptenare

hulle begewe.

Die priesters sal verslae wees

en die profete

sal verstom staan.”

10 Toe het ek gesê:

“Oppermagtige Here, U het die volk en Jerusalem mislei deur te sê: ‘Hulle sal vrede hê.’ En nou is hulle lewens in gevaar!”

11 Die tyd kom dat Hy vir hierdie volk en die mense van Jerusalem sal sê: “’n Skroeiende wind waai uit die woestynheuwels na my volk toe, maar dis nie om kaf weg te waai nie.

12 Nee, Ek stuur ’n wind met sy volle krag. Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.”

13 Ons vyand kom aan

soos ’n groot onweerswolk.

Die oorlogwaens kom aangejaag

soos ’n orkaan.

Hulle perde is vinniger as arende.

Wee ons,

want ons gaan verwoes word!

14 Jerusalem, was julle harte

sodat julle gered kan word.

Hoe lank wil julle nog verkeerde

gedagtes koester?

15 Uit Dan en die heuwels van Efraim

word jou vernietiging aangekondig.

16 “Waarsku die nasies

in die omgewing,

laat Jerusalem dit hoor:

‘Die vyand uit ’n ver land

is op pad.

Hulle skreeu oorlogskrete

teen die dorpe van Juda.

17 Hulle omsingel Jerusalem

net soos wagte

wat ’n graanland oppas.

Want my volk het teen My

in opstand gekom,’”

sê die Here.

18 “Dit is julle eie skuld

dat dié dinge met julle gebeur.

As straf kry julle

van julle eie bitter medisyne.

Dit maak diep seer!”

Jeremia huil oor sy mense

19 O die angs, die benoudheid

van my pyn!

My hart klop onstuimig in my.

Ek kan nie stilbly nie.

Ek het trompette gehoor,

die gedreun van oorlogskrete.

20 Die een ramp volg die ander

totdat die land heeltemal

verwoes is.

Skielik is al wat ’n blyplek

en skuiling is, tot niet.

21 Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbanier aanskou?

Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbasuin hoor?

22 “My volk is dwaas,

hulle ken My nie.

Hulle is soos dom kinders,

hulle het geen insig nie.

Hulle is slim as dit kom

by kwaaddoen.

Maar vir goeddoen

het hulle geen talent nie!”

Jeremia sien verwoesting kom

23 Ek het na die aarde gekyk,

en dit was woes en leeg.

Ek het ook na die hemel gekyk,

en daar was geen lig nie.

24 Ek het gekyk na die berge

en die heuwels

en hulle het gebewe en geskud.

25 Ek het gekyk

en al die mense was weg.

Selfs al die voëls van die hemel

het weggevlieg.

26 Toe ek om my kyk,

sien ek die vrugbare grond

het in ’n woestyn verander.

Al die dorpe het in puin gelê,

want die Here

het hulle vernietig

in sy toorn.

27 Die Here het gesê:

“Die land

sal verwoes word,

maar Ek sal dit nie heeltemal

verwoes nie.

28 Die aarde sal huil en die hemel

donker word

oor die besluit wat Ek

oor my volk geneem het.

Ek het klaar besluit

en sal nie van plan

verander nie.”

29 Elke stad se mense vlug

as hulle die klank van perde

en boogskutters hoor.

Hulle kruip in die bosse

en tussen rotse weg.

Al die dorpe is leeg,

sonder ’n enkele inwoner.

30 Wat probeer jy doen,

jy wat gestroop is?

Hoekom trek jy vir jou

’n rooi rok aan,

versier jy jou

met goue juwele?

Hoekom maak jy jou oë mooi

met maskara?

Jy maak jou verniet mooi!

Jou bondgenote

het jou verwerp

en soek jou lewe.

31 Ek hoor ’n uitroep van pyn

soos ’n vrou wat kraam,

’n kreet van iemand

wat haar eerste kind

in die wêreld bring.

Ek hoor die dogter van Sion snak

na haar asem.

Sy pleit om hulp.

Sy kniel voor haar moordenaars.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

5 × 3 =