JEREMIA 15

Die Here se oordeel oor Juda

1 Die Here het toe vir my gesê: “Selfs al sou Moses en Samuel voor My gestaan en vir hierdie mense gepleit het, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Stuur hulle weg, Ek wil hulle nie sien nie!

2 En as hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die Here sê:

“‘Wie bestem is vir die dood,

na die dood.

Wie bestem is vir die oorlog,

na die oorlog.

Wie bestem is vir hongersnood,

na die hongersnood.

En wie bestem is vir gevangenskap,

na die gevangenskap.’

3 “Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle stuur,” sê die Here: “Die swaard om dood te maak, honde om hulle weg te sleep en aasvoëls om op te vreet en wilde diere om te vernietig.

4 “Ek sal van my volk ’n voorwerp van afsku maak vir al die koninkryke van die aarde. Ek doen dit oor wat koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, in Jerusalem gedoen het.

5 “Wie sal julle jammer kry,

Jerusalem?

Wie sal oor julle huil?

Wie sal nog moeite doen

om te vra hoe dit

met julle gaan?

6 Julle het My

in die steek gelaat,”

sê die Here.

“Julle steur julle nie aan My nie.

Daarom sal Ek sorg dat daar

niks van julle oorbly nie.

Ek is moeg daarvan om julle

altyd nog ’n kans te gee.

7 Ek sal julle uitwan

soos kaf by die dorsvloer.

Ek sal alles wat julle

na aan die hart lê,

wegvat.

Ek sal my volk vernietig

omdat hulle weier

om hulle van hulle bose lewe

te bekeer.

8 Daar sal meer weduwees wees

as sand in die see.

Laatmiddag bring Ek ’n vyand

wat die ma’s van jong mans

sal oorval.

Ek sal angs en vrees

skielik oor hulle laat toesak.

9 ’n Ma van sewe kinders

sal swak voel

en na haar asem snak.

Die son het vir haar gesak,

al is dit nog dag.

Sy is nou kinderloos –

wat ’n vernedering is dit nie!

Dié wat oorleef,

sal Ek aan die vyand oorgee

om hulle dood te maak,”

sê die Here.

Jeremia se klagte

10 “Wee my, Ma, dat u my

in die wêreld gebring het.

Deur die hele land

baklei mense met my.

Al het ek niks uitgeleen

wat ek terugvra

of by ander geleen

wat ek nie wil teruggee nie,

vervloek almal my.”

11 Die Here het geantwoord:

“Dit sal goed gaan met jou.

In tye van nood en ellende

sal jou vyande jou vra

om vir hulle in te tree by My.

12 “Kan ’n mens ’n stuk yster breek,

of brons wat uit die noorde kom?

13 Jou rykdom en besittings

sal Ek as buit

vir die vyand gee

oor al jou verkeerde dade.

14 Ek laat jou vyande

jou wegneem om as ballinge

in ’n vreemde land te gaan leef.

Want my woede brand soos ’n vuur

en sal julle verteer.”

15 “Here, U weet alles.

Dink tog aan my en help my.

Straf die mense wat my vervolg!

Moenie toelaat dat hulle my

doodmaak nie!

Wees genadig!

Neem tog in ag dat ek

ter wille van U bespot is.

16 Toe U gepraat het,

het ek noukeurig geluister.

Ek het elke woord ingeneem.

U woorde het my bly gemaak.

Dit het my opgewonde gemaak

om te weet

dat ek aan U behoort,

o Here, God, die Almagtige.

17 Ek het nooit

na die volk se vrolike partytjies

gegaan nie.

Ek het alleen gesit

omdat u hand op my was.

Ek was verontwaardig

oor hulle sonde.

18 Waarom hou my lyding

dan net aan en aan?

Waarom genees my wonde nie?

U hulp is vir my so bedrieglik

soos ’n wisselvallige waterstroom,

soos ’n fontein wat opdroog.”

Ek sal jou help en jou red

19 Die Here antwoord toe:

“As jy terugkom na My toe,

sal Ek jou herstel

sodat jy My weer kan dien.

As jy ophou

om onverantwoordelike

dinge te sê,

sal jy namens My kan praat.

Jy moet hulle beïnvloed,

nie hulle vir jou nie.

20 Ek maak jou ’n muur van brons

vir hierdie volk.

Hulle sal teen jou veg,

maar sal jou nie oorwin nie.

Ek sal jou beskerm

en jou red,” sê die Here.

21 “Ek sal jou red

uit die mag

van hierdie slegte mense,

en jou beskerm

teen hulle wreedheid.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

14 + twelve =