Afgodery lei tot vernietiging
1 Luister na wat die Here
vir julle sê, Israel!
2 Die Here sê:
“Moenie die praktyke
van die nasies navolg nie.
En moenie bang wees
vir hulle voorspellings
of vir tekens
aan die hemel nie,
al wek dit vrees by die nasies.
3 Hulle gebruike is tevergeefs
en dwaas.
Hulle kap ’n boom af in ’n bos
en ’n ambagsman
maak daarvan ’n beeld.
4 Hulle versier hierdie beeld
met goud en silwer.
Hulle spyker dit dan vas
sodat dit nie omval nie.
5 Hulle afgode is so hulpeloos
soos ’n voëlverskrikker
in ’n groentetuin!
Hulle kan nie praat of loop nie,
maar moet gedra word.
Moenie bang wees
vir sulke gode nie.
Hulle kan niemand
kwaad aandoen nie.
Hulle kan ook niks goeds vir
enigiemand doen nie.”
6 Here, daar is niemand
soos U nie!
U is groot, u Naam dra gesag!
7 Is daar iemand wat U
nie sal vrees nie,
Koning van al die volke?
U alleen verdien eer!
Daar is niemand op aarde
of in enige koninkryk
wat so verstandig soos U is nie.
8 Mense wat afgode vereer,
is dom en dwaas.
Die goed wat hulle aanbid,
is dan van hout!
9 Hulle bring die fynste silwer
uit Tarsis
en suiwer goud uit Ufas
en ’n handvaardige goudsmid
maak ’n beeld.
Vaardige kleremakers trek dan
vir hierdie beeld
klere van duur materiaal aan.
10 Maar die Here
is die enigste ware God,
Hy is die God wat lewe.
Hy sal vir altyd Koning bly!
As Hy kwaad is,
bewe die aarde.
Die nasies is nie bestand
teen sy woede nie.
11 Sê vir mense wat die afgode aanbid:
“Julle sogenaamde gode,
wat nie die hemel en
die aarde gemaak het nie,
sal van die aarde af
verdwyn.”
12 God het die aarde
deur sy krag gemaak.
Hy het die wêreld
deur sy kennis laat ontstaan.
Dit is deur sy insig
dat die hemel uitgesprei lê.
13 As Hy praat, kom
die wolkmassa in oproer.
Hy laat mistigheid opstyg
vanaf die eindes van die aarde.
Hy stuur ook weerlig
saam met die reën,
Hy laat die wind vry
uit sy stoorkamers.
14 In vergelyking met Hom
is mense dom en
sonder kennis!
Hulle maak afgodsbeelde,
maar die beelde
bring hulle makers in
die verleentheid,
want hulle is vals,
sonder enige lewe.
15 Hulle is niks werd nie.
Hulle is niks anders as leuens nie!
Die tyd van hulle vernietiging
sal kom.
16 Maar die God van Israel
is nie soos hierdie afgode nie!
Hy is Skepper van alles
wat bestaan,
ook van Israel,
sy besondere erfenis.
Sy Naam is die Here,
die Almagtige!
Vernietiging kom!
17 “Vat julle goed
om uit die land te gaan,
want die beleg gaan begin!”
18 sê die Here.
“Ek gaan julle skielik
uit julle land smyt.
Ek gaan groot ellende
oor julle laat kom.
Dan sal julle my toorn ervaar.”
19 My ellende is groot,
my wonde is seer.
Ek het gedink:
Dié lyding
sal ek maar moet verduur.
20 My huis is weg
en daar is niemand oor
om my te help
om dit te herbou nie.
My kinders is weggevat,
en ek sal hulle nooit weer sien nie.
21 Ons leiers is onnosel.
Hulle vra nie wat die Here
van hulle verwag nie.
Dit is waarom hulle misluk.
En dis ook hoekom ons mense
oral verstrooi is.
22 Hoor julle, dit is die gedreun
van die vyand se leërs
wat uit die noorde op pad is.
Hulle sal die dorpe van Juda
verwoes.
Die dorpe sal ’n lêplek wees
vir jakkalse.
Jeremia se gebed
23 Ek weet, Here,
mense se lewens
is nie hulle eie nie.
Niemand het beheer oor wat
met hulle gaan gebeur nie.
24 Here, help my reg,
maar werk sag met my.
As U dit in woede doen,
sal niks van my oorbly nie.
25 Haal u woede liewer uit
op ons vyande.
Hulle steur hulle mos nie
aan U nie.
Hulle het ook nie
respek vir U nie.
Hulle het u volk Israel uitgeroei
en die land verwoes.