HOOGLIED 8

1 “Was jy nou maar net my broer!

Het jy ook maar

aan my ma gedrink,

dan kon ek sonder skaamte

jou soen

as ek jou buite teëkom.

2 Ek kon jou dan bring

na my ma se huis,

sy wat my kon leer

hoe om lief te hê.

Ek sou jou laat drink

van my kruiewyn,

van my soet granaatwyn.

3 Sy linkerarm is onder my kop.

Met sy regterarm

omhels hy my.

4 “Belowe my,

vroue van Jerusalem,

dat julle nie die liefde

sal aanblaas

voordat die tyd daarvoor

ryp is nie.”

Jong vroue van Jerusalem:

5 “Wie kom daar uit die woestyn

terwyl sy leun

op haar beminde?”

Jong vrou:

“Onder die appelboom

het ek jou opgewek,

daar waar jou ma

jou in die wêreld gebring het,

waar sy met pyn

aan jou geboorte gegee het.

6 Hou my vas teen jou,

soos die seëlring op jou bors,

soos die seëlring

aan jou vinger.

Liefde is so sterk soos die dood.

Liefdesdrif so magtig

soos die doderyk.

Dit brand soos ’n vuurvlam

wat alles verteer.

7 ’n Stroom water

kan die liefde nie blus nie.

Riviere kan dit nie wegspoel nie.

Selfs al wil iemand liefde koop

met alles wat hy besit,

sal hy net uitgelag word.”

Jong vrou se broers:

8 “Ons sussie is nog baie jonk.

Borste het sy nog nie.

Wat gaan ons doen die dag

as iemand vra

om met haar te trou?

9 As sy ’n muur was,

het ons ’n silwertoring

rondom haar gebou.

As sy ’n deur was,

het ons haar afgehok

met sederplanke.”

Jong vrou:

10 “Ek is ’n muur.

My borste is al soos torings.

My beminde is tevrede met my.

11 “Salomo besit ’n wingerd

in Baäl-Hamon.

Hy huur dit uit aan mense

wat die wingerd bewerk.

Daarvoor betaal hulle hom elkeen

11 000 gram silwer.”

12 Maar ek werk alleen in my wingerd.

Salomo,

hou maar die 11 000 gram silwer

vir jouself

en gee 2 200 gram silwer

vir die mense

wat in die wingerd werk.”

Jong man:

13 “Jy wat in die tuine woon,

jou vriende luister na jou stem.

Laat my ook jou stem hoor!”

Jong vrou:

14 “Maak gou,

my liefling.

Kom na my toe

so vinnig soos ’n ribbok,

soos ’n jong takbok

in die kruieberge!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × 2 =