HOOGLIED 7

1 Jong man:

“Dogter van ’n prins,

hoe pragtig is jou voete

in jou sandale.

Die rondings van jou heupe

is soos juwele

wat ’n kunstenaar

met sy hande gemaak het.

2 Jou naeltjie

is soos ’n ronde houer

waarin wyn nooit ontbreek nie.

Jou maag

is soos ’n hopie koring

wat omring is met lelies.

3 Jou twee borste

is soos

tweeling-takboklammers.

4 Jou nek

is so sierlik

soos ’n toring van ivoor.

Jou oë

is soos die poele

by Gesbon,

by die ingang na Bat-Rabbim.

Jou neus

is soos die toring

van die Libanon

wat uitkyk na Damaskus toe.

5 Jou kop

is soos die Karmelberg,

so statig op jou lyf.

Die hare op jou kop

is soos koninklike purper.

Jou haarlokke

betower ’n koning.

6 “Hoe mooi is jy!

Hoe bekoorlik is jy,

my liefste!

Hoe ’n plesier is jy!

7 Jou lenige lyf

is soos ’n palmboom,

jou borste soos druiwetrosse.

8 Ek het vir myself gesê:

‘Teen hierdie palmboom

wil ek uitklim

en sy dadeltrosse gryp.’

Laat jou twee borste vir my wees

soos druiwetrosse.

Laat jou asem vir my ruik

soos dié van appels,

9 jou mond soos goeie wyn

wat tussen lippe en tande

glad na binne vloei.”

Jong vrou:

10 “Ek behoort

net aan my liefling.

Hy smag na my.

11 Kom, my liefste,

kom ons gaan uit na die veld,

kom ons gaan slaap

tussen die lelies.

12 Môre-oggend vroeg

gaan ons na die wingerde toe

om te kyk of dit al bot,

of die botsels al oop is,

en of die granaatbome al bloei.

Daar gee ek jou my liefde.

13 Liefdesappels

versprei hulle geur,

en by ons deur

is daar vrugte, vars en ryp.

My liefling,

ek het hulle net vir jou gebêre.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fifteen + 9 =