1 Jong vroue van Jerusalem:
“Nou waarheen
sou jou liefling gegaan het,
mooiste van al die vroue?
Waarheen
het jou minnaar gegaan?
Ons sal jou help
om na hom te soek.”
Jong vrou:
2 “My liefste is af na sy tuin toe.
Hy is na die kruiebeddings
om sy skape in die tuine
te laat wei
en om lelies te pluk.
3 Ek behoort aan my liefste
en hy is net myne.
Hy laat sy skape
tussen die lelies wei.”
Jong man:
4 “My minnaar,
jy is so mooi soos Tirsa,
net so pragtig soos Jerusalem.
Jy is so indrukwekkend
soos ’n afdeling soldate
wat die vaandel dra.
5 Moenie in my oë kyk nie,
want dit oorweldig my.
Jou hare is soos ’n trop bokke
wat afkom
teen die Gileadberge.
6 Jou tande is so wit soos skape
wat nou net gewas is.
Elkeen het tweelinge
en nie een is alleen nie.
7 Jou wange agter jou sluier
is soos skywe granate.
8 Ek kan 60 koninginne,
80 byvroue,
selfs ontelbare jong vroue
tot my beskikking hê,
9 maar ek kies nog steeds
net my duif,
want my volmaakte is uniek.
Sy is haar ma se enigste dogter,
die appel van haar oog.
As die jong meisies haar sien,
bewonder hulle haar.
Selfs koninginne en byvroue
besing haar lof.
10 Hulle vra:
‘Wie is dit wat uitkom
soos die vroeë oggendlig,
wat helder skyn soos die maan,
skitter soos die son,
indrukwekkend is soos soldate
wat die vaandels dra?’
11 “Ek het afgegaan
na die neuteboord
om te gaan kyk
na die nuwe lewe van die lente.
Ek het gaan kyk
hoe die wingerde bot,
hoe die granaatbome bloei.
12 Voor ek my kon kry,
is ek by hom waar hy,
die belangrikste
van al my volksgenote,
in sy strydwa ry.”
Jong vroue van Jerusalem:
13 “Kom terug! Kom terug na ons,
meisie van Sulam!
Kom terug! Kom terug
dat ons weer na jou kan kyk!”
Jong man:
“Wat wil julle sien
aan die Sulammitiese meisie
waar sy dans
tussen die twee rye?”