1 Jong man:
“Jy is mooi, my beminde,
so pragtig!
Jou oë agter jou sluier
is soos die oë van ’n duif.
Jou hare golf weg soos bokke
wat afstroom
teen die Gileadberge.
2 Jou tande is so wit soos skape,
so pas geskeer en gewas.
Hulle is almal tweelinge
en nie een van hulle is alleen nie.
3 Soos rooi, gevlegte lint
is jou lippe,
pragtig is jou mond.
Soos lieflike, geurige granate
is jou wange onder jou sluier.
4 Jou nek is so sierlik
soos die Dawidstoring
wat versier is
met duisend skilde
van sy helde.
5 Jou twee borste
is soos tweeling-takboklammers
wat tussen die lelies wei.
6 Wanneer die dag aanbreek
en die skaduwees verdwyn,
wil ek na die berg van mirre toe gaan,
na die heuwel van wierook.
7 My beminde, alles aan jou
is mooi.
Daar is geen fout aan jou nie.
8 “My bruid, kom saam met my
van die Libanonberg af.
Kom kyk van die kruin
van Amana,
van bo van Senir en Hermon af,
waar die leeus bly
en die luiperds lê.
9 Jy het my opgewonde gemaak,
my suster, my liewe bruid.
’n Skalkse kyk van jou oë,
een kyk na die halssnoer
om jou nek
het my in vervoering gebring.
10 Om jou te liefkoos,
is wonderlik, my liewe bruid.
Dit is soveel beter as wyn.
Jou parfuum ruik lekkerder
as al die geurige kruie.
11 Jou lippe proe soos heuning,
my bruid.
As jy praat, is dit so heerlik
soos heuning en melk.
Jou klere ruik so lekker
soos die Libanon.
12 “My suster, my bruid,
is ’n tuin wat toegesluit is.
Sy is ’n fontein wat toegebou
en verseël is.
13 Sy is ’n pragtige boord
van granaatbome,
met uitsoekvrugte,
hennastruike en nardus,
14 nardus en saffraan,
kalmoes en kaneel
saam met
geurige kruie,
mirre en aalwyn,
saam met al die geurigste kruie.
15 Sy is ’n fontein in my tuin,
’n put
met borrelende vars water
wat van die Libanon af stroom.”
Jong vrou:
16 “Begin waai, noordewind,
kom, suidewind,
kom waai deur my tuin!
Waai sy geure aan
na my liefling
dat hy na sy tuin toe kan kom
om sy heerlike vrugte te eet.”