1 Salomo se heel mooiste lied.
Jong vrou:
2 “Soen my weer en weer!
Jou liefde
is soeter as wyn.
3 Jou parfuum ruik heerlik.
Jou naam
is soos parfuum!
Dis waarom meisies
so baie van jou hou.
4 Vat my saam met jou!
Kom, laat ons hardloop!
Laat die koning my
na sy kamer toe neem.”
Vriende:
“Kom ons juig!
Ons is bly oor jou!
Ons hou meer van jou liefde
as van wyn.”
Jong vrou:
“Geen wonder
meisies het jou so lief nie.
5 Ek is donker en ek is pragtig,
vroue van Jerusalem.
Ek het die kleur
van die tente van Kedar
en die tentdoeke van Salomo.
6 “Moenie my so staan en bekyk
omdat ek donker is nie.
Die son het my so gebrand.
My broers was kwaad vir my.
Daarom het hulle my die wingerde
laat oppas.
My eie wingerd
moes ek verwaarloos.
7 Sê vir my, my liefling,
waar laat jy
jou kleinvee wei?
Waar gaan jy met hulle oorstaan
vanmiddag?
Hoekom moet ek my
agter ’n sluier versteek
om na jou te gaan soek
by die veetroppe
van jou vriende?”
Jong man:
8 “As jy nie weet nie,
mooiste van die vroue,
loop op die spore
van die skape
en laat jou bokkies wei
daar by die veewagters se tente.
9 “My beminde, jy is vir my
soos ’n perd
voor die farao se oorlogwa.
10 Jou wange is pragtig
met oorbelle versier.
Jou nek is mooi
met juwele versier.
11 Ons maak vir jou
oorbelle van goud,
met silwer versiersels daarin.”
Jong vrou:
12 “Terwyl die koning
by sy tafel is,
versprei die geur
van my nardusparfuum.
13 My liefling is vir my
’n sakkie mirre
tussen my borste.
14 My liefling is vir my
’n bos hennablomme
uit die wingerde
van En-Gedi.”
Jong man:
15 “Jy is pragtig, my beminde.
Jou oë is so mooi
soos die oë van duiwe.”
Jong vrou:
16 “Jy is baie aantreklik,
my liefling.
Die bed waarop ons lê,
is soos groen gras,
17 ons huis se balke
is soos sederbome,
ja, soos sipresbome.”