HEBREËRS 8

Christus is die Hoofpriester van

’n baie uitnemender verbond

1 Die hoofpunt van my hele betoog tot dusver is dat ons ’n baie spesiale Hoofpriester het wat plek ingeneem het op die hemelse troon, aan die regterhand van die Majesteit.

2 Daar doen Hy diens in die heiligdom, die ware hemelse tabernakel wat God self opgerig het, nie ’n mens nie.

3 En aangesien elke hoofpriester aangestel word om gawes en offers te bring, moet ons Hoofpriester ook iets hê om aan te bied.

4 As Hy nog hier op aarde was, sou Hy nie eers ’n priester kon wees nie omdat daar reeds priesters is wat die wetlike offers bring.

5 Hulle dien in ’n heiligdom wat maar net ’n kopie, ’n flou skadubeeld van die ware, hemelse heiligdom is. Want toe Moses aan die regmaak was om die tabernakel op te rig, het God aan hom die opdrag gegee: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek vir jou op die berg gewys het.”

6 Maar nou het Jesus Christus ’n bediening verkry wat net soveel uitnemender is as wat Hy Middelaar is van ’n voortrefliker verbond, ’n verbond wat voortrefliker is omdat dit op voortrefliker beloftes berus.

7 As die eerste verbond perfek gewerk het, sou daar geen behoefte aan ’n tweede een gewees het nie.

8 God kritiseer die volk hieroor wanneer Hy verklaar:

“Daar kom ’n tyd, sê die Here,

dat Ek met Israel en Juda

’n nuwe verbond sal sluit.

9 Dit sal anders wees as die een

wat Ek met hulle voorouers

gesluit het

toe Ek hulle aan die hand gevat

en uitgelei het uit Egipte.

Hulle het nie aan my verbond

getrou gebly nie;

en Ek het my rug op hulle

gedraai.

10 Dít is nou die verbond

wat Ek hierna met die volk Israel

gaan sluit, verklaar die Here:

Ek sal my opdragte inskryf

in hulle verstand

en Ek sal dit in hulle harte

graveer.

Ek sal hulle God wees

en hulle sal mý volk wees.

11 En hulle sal nie nodig hê

om elkeen sy medeburger

te onderrig en vir sy broer te sê:

‘Jy moet die Here

leer ken’ nie.

Want elkeen van hulle,

van die kleinste tot die grootste,

sal My ken.

12 Ek sal My ontferm oor hulle

ongeregtighede

en Ek sal nooit weer

aan hulle sondes dink nie.”

13 Deur van ’n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five + 17 =