HEBREËRS 1

1 God het deur Jesus Christus op

’n unieke manier met ons

Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat.

2 Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak.

3 Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon.

Jesus Christus as die Seun

oortref die engele verreweg

4 Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele.

5 God het tog nooit vir enige engel gesê wat Hy vir Jesus gesê het nie:

“Jy is my Seun.

Vandag het Ek jou Vader

geword.”

Op ’n ander plek sê God weer:

“Ek sal sy Vader wees,

en Hy sal my Seun wees.”

6 En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:

“En laat al die engele van God

Hom aanbid.”

7 God sê van die engele:

“Hy verander sy engele in

stormwinde,

sy dienaars in vuurvlamme.”

8 Maar vir die Seun sê Hy:

“U troon, o God, staan vir altyd

onwankelbaar vas.

U koninklike heerskappy

word gekenmerk

deur regverdigheid.

9 U het lief wat reg is

en U haat wat verkeerd is.

Daarom het, o God, u God

U met jubelende vreugde

tot koning gesalf –

ver verhewe bo almal

saam met U.”

10 En verder:

“O Here, U het heel aan die begin

die fondamente

van die aarde gelê,

en die hemele is u handewerk.

11 Hierdie dinge sal vergaan,

maar U bly vir altyd.

Hulle sal almal

soos klere verslete raak.

12 Soos ’n oorkleed sal U hulle oprol;

soos ’n bo-kleed

sal hulle verander word.

Maar U bly steeds Uself

en U leef vir altyd.”

13 En God het nooit aan ’n engel gesê nie:

“Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.”

14 Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat verlos gaan word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

four × 5 =