HABAKUK 2

1 Ek gaan in my uitkyktoring staan,

my plek inneem

op my wagpos in die muur.

Ek wag om te sien

wat die Here vir my gaan sê,

wat sy antwoord

op my klagte sal wees.

Die Here antwoord ’n tweede

keer

2 Toe het die Here geantwoord:

“Skryf my antwoord, die visioen,

in groot, duidelike letters

op kleitablette

sodat iemand wat verbyhardloop

dit kan lees.

3 Die dinge wat Ek beplan,

gaan nie nou dadelik gebeur nie.

Stadig maar seker breek die tyd aan

wanneer die visioen waar sal word.

Wag geduldig,

al voel dit of dit stadig gaan.

Wees seker dit gaan gebeur,

dit sal nie onnodig talm nie.

4 “Kyk na die hoogmoediges!

Hulle vertrou op hulleself

en hulle lewe is boos.

Die regverdiges, daarenteen,

sal deur hulle geloof lewe.

5 Voorspoed verlei mense,

en hoogmoedige mense

kom nooit tot rus nie.

Hulle is magshonger

met monde wat groot oop is

soos die dood.

Tog stel niks hulle ooit tevrede nie.

In hulle gulsigheid

versamel hulle baie nasies en volke

as gevangenes.

6 “Die tyd kom

wanneer hulle krygsgevangenes

hulle sal koggel en verneder

deur te sê:

‘Diewe! Einde ten laaste

het die gereg julle ingehaal!

Nou sal julle kry wat julle verdien

vir julle verdrukking en uitbuiting!’

7 Julle skuldeisers

sal skielik in woede reageer.

Hulle sal op julle toesak

terwyl julle bewend en hulpeloos is.

Hulle sal alles buit wat julle besit.

8 Julle het baie nasies beroof,

nou sal hulle julle beroof.

Julle moordenaars!

Julle het baie landelike gebiede

en ook die stede

met geweld geteister.

9 “Wee julle wat deur onreg ryk word!

Julle dink dat rykdom

vir julle sekuriteit sal waarborg,

dat julle families

buite bereik van gevaar sal wees.

10 Julle het julleself

in skande gebring

deur die moorde

wat julle gepleeg het.

Daardeur het julle

julle eie lewens prysgegee.

11 Die stene in die mure van julle huise

skree uit oor wat julle gedoen het.

Die klag teen julle weerklink

teen die balke in die plafon.

12 “Wee julle wat stede bou

met geld wat julle bekom het

deur moord en onreg!

13 Het die Here, die Almagtige,

nie beloof

dat die nasies se rykdom

tot as sal verbrand nie?

Hulle werk so hard,

maar dit is alles tevergeefs!

14 Die tyd sal aanbreek

dat die hele aarde vol sal word

met die kennis van die Here

se magtige teenwoordigheid

net soos water die see oordek.

15 “Wee julle wat julle bure

dronk maak!

Julle meng drank en maak hulle dronk

om na hulle naaktheid te kyk.

16 Binnekort sal dit julle beurt wees

om in skande te kom!

Kom, drink en word ontbloot!

Drink uit die beker van oordeel.

So sal julle eer in skande verander.

17 Julle kap die bome van Libanon af,

nou sal julle afgekap word!

Julle verskrik die wilde diere

deur hulle in strikke te vang.

Nou sal verskrikking julle tref

omdat julle oral in die stede

moord en geweld gepleeg het!

18 “Wat is die nut

om mensgemaakte afgode

te aanbid?

Dit is dwaas om julle vertroue te stel

op iets wat julle met julle eie hande

gemaak het.

Dit is ’n afgod wat nie kan praat nie.

Julle is dwase om dié leuens te glo!

19 Wee julle wat vir ’n stuk hout sê:

‘Word wakker! Kom red ons!’

Kan julle by ’n lewelose klip iets leer?

Kan ’n stom klip sê

wat om te doen?

Al is dit oorgetrek met goud en silwer

is dit heeltemal sonder lewe.

20 Die Here is in sy heilige tempel;

laat almal op aarde

stil wees in sy teenwoordigheid!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

15 + 20 =