HABAKUK 1

1 Die boodskap wat die profeet Habakuk in ’n visioen ontvang het.

Habakuk se klag

2 Here, hoe lank moet ek nog

roep om hulp?

U luister nie na my nie.

“Geweld!” roep ek baie hard,

maar U red my nie.

3 Waarom laat U my die onreg

en die ellende om my sien?

Waar ek ook al kyk,

sien ek vernietiging en geweld.

Ek is omring deur mense

wat daarvan hou

om te stry en te baklei.

4 Die wet het sy krag verloor

en is onbruikbaar.

Reg seëvier ook nie in die howe nie.

Daar is baie meer goddelose mense

as dié wat reg doen.

Daarom is die regsuitsprake verdraaid.

Die Here se antwoord

5 Die Here het geantwoord:

“Kyk na die nasies en staan verbaas!

Let op en staan verstom!

Ek doen iets in jou leeftyd,

iets wat jy nie sou glo

as iemand anders jou dit vertel nie.

6 Ek laat toe dat die Galdeërs

die nuwe wêreldmag word.

Hulle is wreed en gewelddadig,

’n nasie wat die wêreld

deurkruis om ander se woonplekke

af te neem.

7 Hulle is bekend

vir hulle verskriklike wreedheid.

Hulle doen net wat hulle wil

en niemand kan hulle keer nie.

8 Hulle perde is vinniger as luiperds.

Hulle is vurige mense,

erger as wolwe teen skemeraand.

Soos arende

duik hulle neer op hulle prooi.

9 “Hulle beur vorentoe,

gereed vir geweld.

Hulle leërs kom aangestorm

soos ’n wind uit die woestyn.

Hulle versamel krygsgevangenes

soos sand.

10 Hulle maak ’n bespotting

van konings

en lag regeerders uit.

Al die vestings minag hulle.

Teen die mure

stapel hulle grondwalle op

en neem die vestings in.

11 Hulle swiep verby soos die wind,

en verdwyn.

Maar hulle is skuldig,

hulle verafgod hulle eie krag.”

Habakuk se tweede klag

12 O Here my God, my Heilige,

U is daar van altyd af.

Sekerlik is dit tog nie u plan

om ons uit te wis nie!

O Here, ons Rots,

U het die Babiloniërs aangestel

om ons te straf.

13 U is te regverdig om onreg te duld.

Maar is dit vir U moontlik

om met gevoeligheid te sien

hoe hulle ons verswelg?

Is dit reg dat U stilbly

terwyl goddeloses dié verslind

wat meer regverdig is as hulle?

14 Is ons maar soos visse

wat gevang en doodgemaak word?

Is ons soos kruipende insekte,

sonder iemand

om hulle te lei?

15 Moet ons aan hoeke gevang

en met nette uitgetrek word?

Hulle versamel ons met sleepnette

en juig daaroor.

16 Hulle bring offers vir hulle nette

en brand wierook ter ere van hulle.

Hulle sê:

“Die nette laat ons in weelde leef

en voorsien ons van volop kos!”

17 Gaan U toelaat

dat hulle altyd hiermee wegkom?

Gaan hulle vir altyd suksesvol wees

met hulle gevoellose oorwinnings?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

nineteen − sixteen =