ESEGIËL 7

Die einde

1 Toe het hierdie boodskap van die Here na my toe gekom:

2 “Mensekind,

die oppermagtige Here

sê vir Israel:

Die einde is hier!

Die einde kom

tot aan die uithoeke van die land.

3 Nou het die einde aangebreek

oor jou,

want Ek laat my woede

teen jou losbars.

Ek gaan jou straf

vir wat jy aangevang het.

Ek roep jou tot verantwoording

oor jou afskuwelike gedrag.

4 Ek sal wegkyk

en jou nie weer jammer kry nie.

Ek gaan jou ten volle laat betaal

vir al die afskuwelike dinge

wat jy aangevang het.

Dan sal jy weet en erken

dat Ek die Here is!

5 “Die oppermagtige Here sê:

Ramp na ramp

bring Ek oor jou!

6 Die einde het gekom!

Dit het aangebreek!

Jou finale vernietiging wag!

7 Mense van Israel,

die dag van jou vernietiging

breek aan.

Die tyd het gekom.

Die dag van moeilikheid

is naby!

Daardie dag

sal daar verwarring wees,

nie vreugde nie.

8 Binnekort stort Ek my woede

uit op jou.

Ek sal jou oordeel

oor jou optrede.

Dan straf Ek jou

vir jou afskuwelike gedrag.

9 Ek sal jou nie verskoon en

jou nie jammer kry nie.

Ek sal jou straf oor jou gedrag

en al jou afskuwelike dade.

Dan sal jy weet dis Ek,

die Here,

wat jou geslaan het.

10 “Die dag van oordeel is hier.

Jou vernietiging wag!

Die volk se afskuwelike dade

en trots

het ’n klimaks bereik.

11 Geweld sal teen hulle losbreek

as straf

oor hulle afskuwelike optrede.

Van die trotse en bose mense

sal nie een oorleef nie.

Al hulle skatte

sal saam met hulle vergaan.

12 Ja, die tyd het gekom!

Die dag is hier

dat die een wat koop,

nie bly moet wees nie,

en dié wat verkoop

nie spyt sal wees nie,

want my woede

rus op almal in die land.

13 Sou enige handelaars oorleef,

sal hulle nooit weer

kan terugkeer

na hulle besigheid nie.

Want wat Hy gesê het,

geld vir almal.

Dit kan nie verander word nie!

Nie een mens se lewe

deur sonde verwring,

sal herstel nie.”

Vernietiging van Israel

14 “Die trompette

roep Israel se weermag op

om gereed te maak

vir die geveg,

maar niemand luister daarna nie.

My woede is teen hulle gerig.

15 Enigiemand wat dit

buite die stadsmure waag,

sal deur die vyand

doodgemaak word.

En dié wat in die stad agterbly,

sal doodgaan van hongersnood

en pessiektes.

16 Die enkeles wat wel ontsnap

en na die berge vlug,

sal soos duiwe kla.

Hulle sal huil oor hulle sondes.

17 Almal se hande sal slap hang.

Hulle knieë sal so swak wees

soos water.

18 Hulle sal

begrafnisklere aantrek

en hulle aantrek met angs.

Skaamte sal geskryf staan

op hulle gesigte.

Hulle sal hulle koppe kaal skeer.

19 “Hulle sal hulle geld weggooi

soos ’n mens

waardelose gemors weggooi.

Want geld

sal nie verlossing kan koop

op die dag wat die Here

sy woede afkoel nie.

Dit sal hulle nie kan bevredig

of hulle versadig nie.

Dit was juis hulle liefde vir geld

wat veroorsaak het

dat hulle gestruikel het.

20 Hulle was so trots

op hulle goue juweliersware,

en het dit gebruik

om vir hulle walglike beelde

en afskuwelike afgode te maak.

Dis hoekom Ek hulle rykdom

afskuwelik vir hulle sal maak.

21 Ek sal dit weggee as buit

vir vreemdelinge.

Die slegste van die nasies

sal dit onrein maak.

22 Ek sal wegkyk

wanneer hierdie rowers

my kosbare land binneval

en dit vernietig.

23 “Maak kettings gereed

vir my volk,

want die land is vol bloed

deur verskriklike misdade.

Jerusalem is vol geweld.

24 Die wreedste nasies bring Ek

om hierdie mense se huise

vir hulleself te vat.

Ek beëindig die trotsheid

van die sterkes;

hulle heiligdomme

sal ontheilig word.

25 My volk sal bewe van angs.

Hulle sal na vrede soek,

maar dit nêrens kry nie.

26 Ramp sal volg op ramp

en gerug sal volg op gerug.

Verniet soek hulle na profete

wat ’n visioen kan bring.

Die priesters

sal hulle nie leer nie

en die leiers

sal hulle nie raad gee nie.

27 Die koning en die leier

sal hulpeloos staan.

Hulle sal wanhopig huil,

en die mense se hande

sal bewe van vrees.

Ek sal die bose dag

oor hulle bring

wat hulle oor ander gebring het.

Hulle sal die straf ontvang

wat hulle so ryklik verdien.

Dan sal hulle weet

dat Ek die Here is!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

11 − eleven =