’n Waarskuwing vir die farao
1 Op 3 Maart, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:
2 “Mensekind, huil oor die farao, die koning van Egipte.
“Sê vir hom: Jy het jouself as ’n sterk, jong leeu tussen die nasies gesien, maar eintlik is jy ’n seemonster wat in jou riviere rondtrap en die water modderig maak.
3 “Die oppermagtige Here sê:
Ek stuur baie mense
om jou in my net te vang
en jou uit die water te sleep.
4 Ek los jou op droë grond.
Al die voëls en wilde diere
sal aan jou karkas kom vreet,
hulle sal versadig word.
5 Ek maak heuwels toe
met jou vleis
en die valleie
met jou bene.
6 Ek deurweek die aarde
met jou bloed
tot by die berge.
Die klowe
maak Ek vol daarvan.
7 Wanneer Ek jou vernietig,
maak Ek die hemel toe
en verdonker Ek die sterre.
Ek bedek die son met wolke
en die maan sal nie skyn nie.
8 Ek bring donkerte
oor jou hele land.
Selfs die helderste sterre
sal bo jou donker word.
Ek is die oppermagtige Here,
en Ek sê so.
9 “Baie mense sal ontsteld wees
wanneer hulle hoor
van jou einde,
selfs in verre lande
waarvan jy
nie eens geweet het nie.
10 Ek maak baie mense verstom
oor wat met jou gebeur.
Hulle konings se hare
sal regop staan
oor wat jou sal tref
as Ek my swaard
oor hulle swaai.
Die dag as Ek jou
tot ’n val bring,
sal elkeen
vir sy lewe vrees.
11 “Die oppermagtige Here sê:
Die swaard van die koning
van Babilon
is op pad na jou toe.
12 Ek sal jou vernietig
met die swaard
van sterk soldate,
wat almal wrede mense is.
Hulle vernietig Egipte se trots;
al sy mense
word uitgeroei.
13 Ek vernietig ook al jou vee
wat by die water wei.
Die water sal nie meer
vertroebel word
deur mensevoete
of pote van vee nie.
14 Ek maak die water van Egipte
helder,
en dit sal rustig vloei
soos olyfolie,
sê die oppermagtige Here.
15 “Wanneer Ek Egipte vernietig
en alles uitwis
en al sy mense doodmaak,
sal julle besef
Ek is die Here.
16 Dít is die begrafnislied
wat hulle dan
vir Egipte sal sing,
die vroue van ander nasies
wat oor Egipte
en sy mense sing.
So sê die oppermagtige Here.”
Egipte beland in die graf
17 Op 17 Maart, in die twaalfde jaar, het ek nog ’n boodskap van die Here gekry:
18 “Mensekind,
treur oor die mense
van Egipte,
want saam met sterk nasies
stuur Ek hulle
na die onderwêreld,
om in die graf te lê.
19 Sê vir hulle:
‘Egipte, is jy beter
as die ander nasies?
Gaan af en gaan lê
tussen die onbesnedenes!’
20 Hulle sal omkom
saam met ander
wat deur die swaard
gesneuwel het,
want die swaard
is reeds uitgetrek.
Laat Egipte en al sy menigtes
weggesleep word.
21 Vanuit die graf
spot die magtige leiers
vir Egipte en sy bondgenote:
‘Hulle het neergedaal
na die graf
en lê nou by die onbesnedenes,
by die slagoffers van die swaard!’
22 “Assirië lê daar,
omring met grafte van al sy mense,
almal slagoffers van die swaard.
23 Hulle grafte
is diep in die doderyk,
omring deur hulle bondgenote.
Lank tevore het hulle oral
angs in mense gewek,
maar nou het hulle vyande
hulle doodgemaak.
24 “Elam en al sy menigtes
is daar
met sy mense rondom sy graf,
almal deur die swaard getref.
Hulle wat onder die lewendes
paniek gesaai het,
het onbesnede
na die doderyk gegaan.
Hulle dra die vernedering
saam met dié wat in die graf is.
25 Hy lê tussen dié wat dood is,
tussen die grafte van sy krygers.
Almal is onbesnede,
omgebring deur die swaard.
Hulle het verskrikking gesaai
in die land van die lewendes,
maar lê nou verneder
in die graf
saam met dié wat omgekom het.
26 “Mesek en Tubal is daar,
omring deur die grafte
van hulle menigtes,
almal onbesnede slagoffers
van die swaard,
want hulle het paniek gesaai
onder lewendes in die land.
27 Hulle is nie met eer begrawe
soos helde
met hulle wapens nie –
met skilde
wat hulle liggame bedek
en swaarde
onder hulle koppe nie.
In die land van die lewendes
het hulle oral paniek gesaai.
28 “Ook jy, Egipte, sal verslaan lê
tussen die onbesnedenes,
almal slagoffers van die swaard.
29 “Edom is daar,
met konings en prinse.
Eens was hulle magtig,
maar nou het hulle ook gesneuwel
en lê in die graf
saam met onbesnedenes.
30 Al die leiers van die noorde,
ook die Sidoniërs is daar.
Hulle wat met hulle mag
verskrikking gesaai het,
lê nou by onbesnedenes
saam met dié wat gesneuwel het.
Hulle deel die vernedering
met dié wat reeds dood is.
31 “Wanneer die farao
daar aankom,
sal hy verlig wees om te sien
dis nie net sy leër
wat vernietig is nie,
sê die oppermagtige Here.
32 Want Ek het paniek gebring
oor almal wat leef.
Die farao en al sy hordes
sal nou by onbesnedenes moet lê,
by hulle wat gesneuwel het.
Ek, die oppermagtige Here, sê so.”