Egipte vergelyk met Assirië
1 Op 21 Junie, gedurende die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:
2 “Mensekind, gaan sê vir die farao, koning van Egipte, en al sy mense:
“Met wie kan jou grootheid
vergelyk word?
3 Jy is soos Assirië.
Hy was op die Libanonberge
’n seder met baie dik takke.
Met sy top tussen die wolke,
het dit die bos donker gemaak.
4 Die waters het hom natgemaak
en hy het groot en hoog gegroei.
Die water was ook genoeg
vir alle bome rondom hom.
5 Hierdie groot boom
het bo al die ander bome
uitgestaan.
Hy het floreer
met lang, dik takke
omdat daar so baie water was.
6 Die voëls van die hemel
het in sy takke nes gemaak;
in sy skaduwee
het die wilde diere
hulle kleintjies
in die wêreld gebring.
Die groot nasies van die wêreld
het in sy skaduwee geleef.
7 Hy het groot en mooi geword
met takke
wat ver uitgesprei het.
Sy wortels het diep afgegaan
na waters
wat in oorvloed was.
8 Die seders in die tuin van God
kon nie met hom meeding nie.
Die sipresse en platane se takke
was nie so groot
soos syne nie.
Geen boom in die tuin van God
was so mooi
soos hierdie seder nie.
9 Ek het hom mooi gemaak
met baie takke.
Al die ander bome
in die tuin van God
was jaloers op hom.
10 “So sê die oppermagtige Here: Die seder het trots en arrogant geword, en homself bo ander aangestel en sy top tot tussen die wolke gedruk.
11 Daarom het Ek hom oorgegee aan die leier van nasies wat hom gaan vernietig soos sy boosheid verdien. Ek het hom eenkant neergegooi.
12 Die wreedste van vreemde soldate het hom afgekap en hom op die grond laat val. Die takke lê verstrooid oor die berge en valleie en ravyne. Al die mense wat in sy skaduwee geleef het, het weggegaan en hom agtergelaat.
13 Die voëls het op sy omgevalle stam kom sit, en die wilde diere het tussen sy takke gelê.
14 Daarom sal geen boom wat by waters staan, ooit weer trots word en sy kop tussen die wolke optel nie. Geen ander boom mag weer so hoog word nie. Hulle is almal bestem om dood te gaan, na die graf toe tussen sterflike mense.
15 “So sê die oppermagtige Here: Toe hy in die graf afgegaan het, het die waters oor hom getreur, en Ek het die strome teruggehou sodat daar nie meer water was nie. Ek het die Libanon swart aangetrek en die bome van die veld het oor hom verlep.
16 Ek het die nasies laat bewe voor die gedreun van sy val, want Ek het hom graf toe gestuur saam met al die ander wat soos hy is. Die ander trotse bome van Eden, die mooiste en beste van die Libanon, hulle wat water gebruik het, was bly in die onderwêreld.
17 Hulle is ook almal vernietig en doodgemaak. Al die nasies wat in sy skaduwee geleef het, het in die graf beland.
18 “Met watter een van die bome van Eden kan jou mag en aansien vergelyk word, Egipte? Tog sal jy ook saam met die bome van Eden na die onderwêreld gebring word. Jy sal lê tussen die bannelinge wat met die swaard doodgemaak is. Dit is wat met die farao en al sy soldate gaan gebeur, sê die oppermagtige Here.”