ESEGIËL 19

’n Begrafnislied vir Israel se

konings

1 “Sing hierdie begrafnislied oor die leiers van Israel:

2 “‘Wat is jou ma?

’n Leeuwyfie tussen leeus!

Sy lê tussen die jong leeus

en maak haar welpies groot.

3 Sy het een van haar welpies

as ’n sterk jong leeu

laat grootword.

Hy het geleer

om prooi te vang.

Toe het hy mense begin vang.

4 Die nasies het van hom gehoor.

Hulle het hom

in ’n vanggat gevang.

En hulle het hom in kettings

na Egipte weggelei.

5 “‘Toe die leeuwyfie sien

dat al haar hoop vir hom

vernietig is,

het sy ’n ander welpie gevat

en hom ’n sterk jong leeu

gemaak.

6 Hy het tussen die leeus

rondgeloop

en ’n sterk leeu geword.

Hy het geleer om prooi te vang

en ook ’n mensvreter geword.

7 Hy het vestings van nasies

vernietig

en hulle dorpe verwoes.

Die land en almal daarin

was verskrik

wanneer hulle hom hoor brul.

8 Toe het die leërs van die nasies

hom aangeval

en van alle kante omsingel.

Hulle het hulle vangnette

uitgegooi

en hom in hulle vanggat

vasgekeer.

9 Hulle het hom met kettings

in ’n hok

voor die koning van Babel

gebring.

Hulle het hom gevange gehou

sodat sy stem nie meer

op Israel se berge

gehoor word nie.

10 “‘Jou ma

was soos ’n wingerdstok

wat langs die water geplant is.

Dit het druiwe en ranke gehad

omdat daar baie water was.

11 Haar takke was sterk,

sterk genoeg vir septers

van konings.

Dit het hoog uitgetoring

bo almal.

Dit het uitgestaan

omdat dit hoog was

en ’n groot klomp welige takke

gehad het.

12 Maar dit is in woede

ontwortel

en teen die grond

neergegooi.

Die woestynwind

het dit laat opdroog

en die vrugte gestroop.

Die takke is afgeruk

en deur vuur verbrand.

13 Nou is die wingerdstok

in die woestyn geplant

waar die grond hard en droog is.

14 ’n Vuur het uit sy takke gekom

en die vrugte verbrand.

Van die oorblywende takke

is nie een sterk genoeg

vir ’n koninklike septer nie.’

“Dit is ’n begrafnislied.

Dit is nou tyd

vir die begrafnis.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

3 × 2 =