1 KORINTIËRS 13

Hoe onontbeerlik die liefde is

1 Al sou ek enige taal op aarde

of selfs in die hemel kon

praat,

maar ek kom die liefde kort,

het ek ’n galmende trom

of ’n klinkende simbaal geword.

2 En al sou ek die gawe van profesie hê,

en sou ek alle geheime kon ontrafel,

en al die kennis ter wêreld hê,

en al sou ek genoeg geloof hê

om berge te verskuif,

maar ek kom die liefde kort,

sou ek ’n ronde nul wees.

3 En al sou ek al my besittings

vir die armes gee

en selfs my liggaam opoffer

sodat ek my daarop kon beroem,

maar ek kom die liefde kort,

sou dit my niks help nie.

4 Die liefde is geduldig en vriendelik,

die liefde is nie jaloers nie,

die liefde blaas nie sy eie beuel nie,

is nie vol van homself nie.

5 Dit tree nie onwaardig op nie,

stel nie sy eie belange voorop nie,

is nie kort van draad nie,

hou nie boek van die kwaad

wat hom aangedoen word nie.

6 Dit treur oor die onreg

wat plaasvind,

en juig as die waarheid seëvier.

7 Die liefde bly stil oor ander se foute,

dit bly steeds vertrou,

dit hou aan met hoop,

dit verduur alles.

8 Die liefde sal nooit vergaan nie.

Maar profesieë sal tot niet gaan,

die spreek in tale sal ophou,

en kennis sal verouder raak.

9 Ons ken maar net ten dele

en ons profeteer maar net ten dele.

10 Wanneer die volmaakte

egter gekom het,

sal al die onvolmaakte

uitgedien wees.

11 Toe ek nog klein was,

het ek gepraat soos ’n kind,

gedink soos ’n kind,

geredeneer soos ’n kind.

Maar noudat ek volwasse is,

het ek die dinge van ’n kind

ontgroei.

12 Nou sien ons dinge nog net vaagweg

soos in ’n dowwe spieël,

maar eendag sal alles vir ons

glashelder wees.

Nou verstaan ek net ten dele,

maar eendag sal ek ten volle

verstaan,

net soos God my nou ten volle

verstaan.

13 Al wat altyd sal bly,

is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.

Maar die grootste hiervan

bly steeds die liefde!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × five =